Akademie logo 

Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns

Nuusflits

Inskrywings vir die Studentesimposium 2010 word ingewag.  Meer hieroor onder Studentesimposium 2010.

 

Hoofkeusebalk

Tuisblad
Die Akademie
Museum
Standpunte
Simposium 2009
Akademiepryse 2010
Poort 2010
Taalsake
Taalberaad referate
Publikasies
Woordeboeke
Vakwoordeboek
Elisabeth Eybersbeurs
Studentesimposium 2010
Geskiedenisberaad
Werkgemeenskappe
Sleng-bekendstelling
Nuus
Draer van 'n Droom
Stichting Neerlandia
Robert Pearce
Tuisblad arrow Akademiepryse 2010
Akademiepryse 2010 PDF Druk Epos
  • Die publikasie (Die Akademiepryse 1909-2009) is beskikbaar by die Akademiekantoor teen R56 per eksemplaar.  Dit sluit BTW en posgeld in.  [Bestel by Marietjie Botha - tel.:  012-328-5082;  e-pos:   .]

Voorwoord:   Meer as ooit tevore is dit vandag nodig dat die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns sy oogmerke, naamlik die bevordering van die wetenskap en die kunste asook die bevordering van die gebruik en die gehalte van Afrikaans, nastreef.  Hierdie publikasie is die trotse rekord van die SA Akademie se bekronings oor 100 jaar.  Die publikasie verleen hiermee erkenning aan so baie eminente persone wat dekade na dekade die vaandel van die wetenskap en die vaandel van Afrikaans hoog gehou het en daarmee die ideale van die SA Akademie verwesenlik het.

Dit gaan egter nie net om vervulde ideale van die Akademie nie.  Die Akademie het oor die jare deur sy bekronings meegehelp aan die bevordering van 'n akademiese klimaat, die skepping van 'n wetenskapskultuur in diens van Suid-Afrika - en wil dit steeds bly doen.

Die publikasie word aangebied aan lede van die Akademie en ook aan die talle persone en instansies wat belangstel in die Akademie en wat van tyd tot tyd navraag doen oor dié of daardie Akademieprys, oor wie in watter jaar 'n bepaalde toekenning ontvang het.

'n Besondere vorm van bekroning, wat nie 'n prys of medalje behels nie, is erelidmaatskap van die Akademie.  'n Lys van erelede word derhalwe ook ingesluit.  Die laaste afdeling bevat 'n alfabetiese lys van pryse en bekroondes.

Hierdie publikasie kan bestel word by die SA Akademiekantoor en is beskikbaar teen R56 per eksemplaar (BTW en posgeld ingesluit).  

 

 

Akademiepryse 2010 toegeken:

Hertzogprys vir Prosa
Die Hertzogprys is die vernaamste prestigeprys in die Afrikaanse letterkundige wêreld. Die prys is beperk tot oorspronklike bellettristiese werk in Afrikaans en word jaarliks om die beurt toegeken vir poësie, drama en verhalende prosa. Alle prosawerk van hoogstaande gehalte wat in die drie kalenderjare wat die bekroning voorafgaan, verskyn het, het vir dié toekenning in aanmerking gekom. Die prys word toegeken op aanbeveling van die Akademie se Letterkundekommissie.

Die Hertzogprys van 2010 word toegeken aan Etienne van Heerden vir 30 Nagte in Amsterdam. 

Die prys word geborg deur Rapport.

Eugène Maraisprys
Die Eugène Maraisprys word toegeken vir 'n eerste of tweede bellettristiese publikasie in Afrikaans.  Die prys is jaarliks beskikbaar en kan net een maal aan 'n bepaalde skrywer toegeken word.

Die prys word vanjaar toegeken aan Carel van der Merwe vir Geldwolf.

Die prys word geborg deur Rapport en ABSA.

M.T. Steynmedalje vir Natuurwetenskaplike en Tegniese Prestasie
Dit is een van die belangrikste eerbewyse van die Akademie vir leierskap op die hoogste vlak op die gebied van die natuurwetenskap en die tegniek.  Die prys is 'n kroon op 'n lewenstaak en kan net een maal aan 'n persoon toegeken word.  Die kandidaat se skeppende bydraes tot die ontginning, organisasie en volgehoue uitbouing van 'n vertakking of vertakkings van die natuurwetenskap of die tegnologie en wat as 'n wesenlike en belangrike bydrae tot die bevordering van die natuurwetenskap of die tegnologie beskou kan word, en die suksesvolle toepassing daarvan in landsbelang.

Die prys word toegeken aan prof. J. (Hannes) van Staden van die Navorsingsentrum vir Plantegroei en Ontwikkeling, Universiteit van KwaZulu-Natal, Pietermaritzburg.

Prof. Van Staden is waarskynlik die mees produktiewe natuurwetenskaplike in Suid-Afrika met 1042 wetenskaplike navorsingspublikasies in erkende internasionale tydskrifte. Die impak van sy werk is ook duidelik uit die feit dat hy internasionaal deur Thompson ISI geïdentifiseer is as een van die mees gesiteerde outeurs in die wêreld.

Goue Akademiemedalje vir Natuurwetenskaplike Prestasie
Die medalje word toegeken vir hoogstaande werk van praktiese uitvinding (of toepassing) en vernuf, gebaseer op wetenskaplike en/of proefondervindelike grondslag.

Die medalje word vanjaar toegeken aan prof. Amanda Lochner verbonde aan die Departement Biomediese Wetenskappe, Universiteit van Stellenbosch. 

Prof. Lochner word nasionaal en internasionaal erken as ‘n veteraan op die gebied van mediese navorsing. Haar volgehoue navorsingsbydraes oor meer as 45 jaar, toon steeds ‘n stygende kurwe. Die toenemende sofistikasie en verfyning van haar en haar medewerkers se metodiek, bemagtig haar om voort te gaan om steeds op die internasionale toneel ‘n betekenisvolle bydrae te lewer.

Frans du Toitmedalje vir Bedryfsleiding
Die medalje word toegeken aan ‘n kandidaat vir sy skeppende bydrae tot die Suid-Afrikaanse bedryfslewe, sy volgehoue uitbouing oor ‘n lang tydperk van die terreine waarop hy hom begewe het, vir sy leierskap op die bepaalde terreine en vir die besieling wat daar van hom uitgegaan het om die gebiede verder te ontwikkel.

Die prys word toegeken aan mnr. Laurie Dippenaar, nie-uitvoerende voorsitter van FirstRand Beperk en FirstRand Bank Beperk.

Sy skeppende bydrae tot die Suid-Afrikaanse bedryfslewe, sy volgehoue uitbouing oor ‘n lang tydperk van verskeie sektore van die plaaslike finansiële dienstebedryf asook die leierskap en besieling wat steeds van hom uitgaan om ook ‘n bydrae aan die samelewing oor ‘n breër sosiaal-verantwoordelike en opvoedkundige basis te lewer, geniet wye erkenning.

In Mei 1998 het Rand Aksepbank Beherend Beperk (RABH) (waarvan mnr. Dippenaar ‘n vennoot was) sy belange in die finansiëledienstebedryf met dié van Anglo American Corporation of South Africa Beperk (Anglo American) saamgesmelt om een van Suid-Afrika se grootste finansiëledienstegroepe, naamlik FirstRand Beperk (FirstRand) tot stand te bring. Die onderneming het gegroei tot een van die grootste finansiëledienstegroepe in Suid-Afrika wat werk aan 42 000 mense verskaf.

Erepenning vir Rolprentkuns
Die erepenning word vanjaar toegeken aan Miems de Bruyn.

Me. De Bruyn het in alle fasette van die vermaaklikheidsbedryf presteer en ‘n diep merk gelaat. Erkenning word aan haar gegee vir haar harde werk oor dekades, haar kundigheid, bekwaamheid as aktrise en die invloed wat sy op geslagte se jong akteurs en regisseurs gehad het.

Erepenning vir Televisiedrama in Afrikaans
Die erepenning word vanjaar toegeken aan mnr. Koos Roets vir Transito (episode 1).

Die reeks kan met trots oorgeklank word in enige taal en sy man staan op die internasionale verhoog.

Erepenning vir Visuele Kunste
Die erepenning word toegeken aan die kunsskilder, Conrad Theys. Theys openbaar veelsydigheid in sy werk wat geen perke ken nie. Gedurende sy kunsloopbaan het hy nie net in olieverf gewerk nie, maar het ook waterverf, pastel en alle vorme van grafiese kuns met groot sukses bemeester. Sy latere werk toon ‘n individualiteit wat hom onderskei van ander Kaapse Impressionistiese skilders.

Huberte Rupertprys vir Klassieke Musiek
Die prys is jaarliks beskikbaar en enige van die afdelings in klassieke musiek kan in aanmerking kom.

Die prys word toegeken aan prof. Ella Fourie, emeritus professor aan die Universiteit van Pretoria.

Prof. Fourie het haar beste jare aan die opvoedingstaak deur middel van musiek gewy. Die resultate van hierdie toewyding is duidelik sigbaar in die prestasies van tientalle studente wat deur haar onderrig en gemotiveer is, asook in haar navorsingsbydrae wat internasionale erkenning geniet het.

Stalsprys
Die Stalsprys vir Geesteswetenskappe word jaarliks toegeken vir 'n hoogstaande publikasie of 'n reeks van hoogstaande publikasies, by voorkeur, maar nie uitsluitlik nie, in Afrikaans.  Verder word dit toegeken vir individuele of gesamentlike wetenskapsbeoefening en/of die lewering van individuele of gesamentlike produkte van hoogstaande gehalte waardeur buitengewone bydraes tot die wetenskapsbeoefening gemaak word.  Spanprestasie of bydrae tot spanprestasie, multi- en interdissiplinêre navorsing, goeie implementerings- of evalueringsnavorsing kan ook in berekening gebring word.

Stalsprys vir Geskiedwetenskappe
Die prys word toegeken aan prof. P.H. (Pieter) Kapp, emeritus professor in Geskiedenis aan die Universiteit van Stellenbosch. Hy is tans navorsingsgenoot van die Dept. Geskiedenis, Universiteit van die Vrystaat.

Prof. Kapp het hom as leidende historikus bewys. Die spesifieke werk waarvoor die prys aan hom toegeken word, is vir Draer van ‘n droom: die geskiedenis van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns 1909 – 2009. Die boek is ‘n aanwins vir elke naslaan- en gewone biblioteek. Historici van die toekoms sal dank en waardering hê vir die deeglike samevatting van ‘n eeu van die Afrikaner se geskiedenis, soos weerspieël in die wel en weë van die SA Akademie.

Stalsprys vir Filosofie
Die prys word toegeken aan prof. B.J. (Bennie) van der Walt, verbonde aan die Skool vir Filosofie, Noordwes-Universiteit, Potchefstroomkampus.

Prof. Van der Walt werk vanuit die kringe van die Reformatoriese filosofie wat sy swaartepunt in Nederland en Noord-Amerika het. In hierdie kringe het prof. Van der Walt bekend geword as Afrika-kenner en iemand wat worstel met die problematiek van Afrika en die wêreldbeskouings en ideologieë aan die wortel van hierdie probleme.

Stalsprys vir Politieke Wetenskap
Die prys word toegeken aan die samestellers van die Nuwerwetse Politieke Woordeboek (NPW).

Die groep woordeboekmakers wat die NPW saamgestel het, ontvang erkenning vir sowel hulle vakkundigheid en kreatiwiteit as hulle toegewydheid en deursettingsvermoë om die projek onder moeilike omstandighede deur te sien. Die groep samestellers het die behoefte gesien aan ‘n opgedateerde weergawe van die tweetalige woordeboek wat in 1989 die lig gesien het onder die titel Staatkundige en verwante terminologie. Die politieke omwenteling wat Suid-Afrika in die vroeë negentigerjare beleef het, het ‘n magdom nuwe politieke terme en gebruike na vore gebring. Brig.genl. Pierre le Clus is die sameroeper van die werkkomitee en direkteur van die Sentrum vir Politieke en Verwante Terminologie in Suider-Afrikaanse Tale (Septsa).

 Stalsprys vir Ekonomie
Die prys word toegeken aan prof. Paul Styger, verbonde aan die Skool vir Ekonomie, Noordwes-Universiteit (Potchefstroomkampus).

Prof. Styger se werk getuig van ‘n ongewone vakkundigheid as wêreldoutoriteit op sy gebied. Hy ontvang die prys vir sy bydrae wat hy tot die wetenskap, die akademie en in besonder die ekonomie gemaak het. Hy het in besonder die grondslae van Bankrisikobestuur as vakgebied gelê wat steeds tot voordeel van die land benut word.

Besondere Erepenning vir Kultuurbevordering
Die prys word toegeken aan generaal-majoor G.N. (Gert) Opperman, hoof uitvoerende beampte van die Voortrekkermonument.

Genl.maj. Opperman is ‘n kultuur- en bedryfsleier van uitnemendheid. Sy versoenende inisiatiewe en onvermoeide ywer as bevorderaar van die Afrikaanse kultuurerfenis is landwyd bekend. Hy het die Voortrekkermonument omskep in ‘n bewaringsentrum en voorligtingsbron wat mense van alle taal- en kultuurgroepe vanoor die hele wêreld trek.

Ds. Pieter van Drimmelenmedalje
In die geval van die Ds. Pieter van Drimmelenmedalje kom aktiwiteite in aanmerking soos Bybelvertaling, teologiese handboeke in Afrikaans vir gebruik deur universiteitstudente, gepubliseerde preekbundels, godsdiensonderwys en die skryf, vertaling, toonsetting en verbetering van Afrikaanse Psalms en Gesange.
Die prys word vanjaar toegeken aan prof. J.L. (Jaap) Helberg, emeritus professor in Teologie aan die Noordwes-Universiteit, Potchefstroomkampus.

Prof. Helberg het onder andere ‘n leemte gevul deur ‘n sistematiese Ou-Testamentiese Teologie (Openbaringsgeskiedenis van die Ou Testament) te ontwikkel. Hy het ‘n besondere rol as Ou-Testamentikus gespeel met die Afrikaanse Bybelvertaling van 1983.

Havengaprys
Die Havengaprys word jaarliks toegeken vir oorspronklike navorsing op natuurwetenskaplike en/of tegniese gebied.  Die nodige vereistes by die beoordeling van kandidate is eerstens navorsingspublikasies en tweedens bewys van die bevordering van Afrikaans.  Ander prestasies in belang van die wetenskap sal ook in aanmerking geneem word.  Die prys kan net een maal aan 'n bepaalde persoon toegeken word.

Havengaprys vir Lewenswetenskappe
Die prys word toegeken aan prof. A.E. (Braam) van Wyk, verbonde aan die H.G.W.J. Schweickerdt Herbarium, Universiteit van Pretoria.

Prof. Van Wyk is die mees uitstaande planttaksonoom in Suid-Afrika. Sy werk word internasionaal erken. ‘n Groot aantal van sy wetenskaplike publikasies is gepubliseer in internasionaal erkende vaktydskrifte.

Havengaprys vir Gesondheidswetenskappe
Die prys word toegeken aan prof. P.A. Brink, verbonde aan die Fakulteit Gesondheidswetenskappe, Universiteit van Stellenbosch.

Prof. Brink het oor die afgelope paar dekades aansienlike en unieke bydraes in sy navorsingsveld gelewer wat betekenisvol bygedra het tot die bevordering van die diagnose en behandeling van oorerflike hartsiektes, wat wye internasionale erkenning geniet.

Scheepersprys vir Jeugliteratuur
Die prys word toegeken vir die bevordering van hoogstaande Afrikaanse jeugliteratuur en moet van goeie letterkundige en/of opvoedkundige gehalte getuig.

Die prys word toegeken aan Nelia Engelbrecht vir Pandora se boks.

Alba Bouwerprys vir Kinderliteratuur
Die prys word toegeken vir enige literêre werk in die kategorie kinderliteratuur d.w.s. die groep lesers van sewe tot twaalf.

Die prys word vanjaar toegeken aan Linda Rode vir In die nimmer-immer bos.
Die prys word geborg deur die ATKV.

Senior Kaptein Scott-gedenkmedalje
Die medalje word toegeken aan enige bioloog in suidelike Afrika wat uitmuntend in sy/haar werksveld presteer het. Wetenskaplike werk van meer toegepaste aard en van voortreflike gehalte wat die status van die biologiese wetenskappe bevorder het deur byvoorbeeld uitmuntende navorsing, onderwys of bestuursleiding, kom vir die medalje in aanmerking.  Dit kan óf vir 'n enkele uitstaande bydrae óf vir 'n voortgesette bydrae oor 'n lang tydperk toegeken word op die gebied van die omgewingsbiologie.
Die prys word toegeken aan prof. D.E. (Eduard) van Dijk, emeritus professor van die destydse Universiteit van Natal (vandag Universiteit van KwaZulu-Natal, Pietermaritzburg.

Prof. Van Dijk het veral op die gebied van die paleontologie uitstekende, innoverende bydraes oor ‘n lang tydperk gelewer. Hy is vanjaar 85 jaar oud. Sy jongste publikasie het in 2009 verskyn en handel oor splinternuwe getuienis vir kontinentale verplasings. Dit is raar dat iemand op so ‘n baie gevorderde leeftyd steeds op so ‘n voortreflike wyse kan presteer.

Junior Kaptein Scott-gedenkmedalje (Dierkundige Wetenskappe)
Die medalje kan jaarliks toegeken word vir die beste verhandeling ingedien by 'n Suid-Afrikaanse universiteit vir die M.Sc.-graad om die beurt in die dierkundige of plantkundige wetenskappe.  Vanjaar is dierkundige wetenskappe aan die beurt. 

Die medalje word toegeken aan mnr. M.B. (Michael) Ellis, verbonde aan die Departement van Soölogie en Entomologie, Universiteit van Pretoria.

Die titel van sy verhandeling is Homeostasis: Humidity and water relations in honeybee colonies (Apis mellifera). Sy studieleiers was dr. Vincent Dietemann, prof. Sue Nicolson en prof. Robin Crewe.

Elisabeth Eybersbeurs

Die beurs word vanjaar (2010) toegeken aan prof. H.E.J. (Helize) van Vuuren, verbonde aan die Skool vir Tale van die Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit en prof. C.N. (Chris) van der Merwe, emeritus professor van die Universiteit van Kaapstad.

 

 

 

 

Ontwikkel deur GigaSkills Training vir die Akademie