Akademie logo 

Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns

Nuusflits

Inskrywings vir die Studentesimposium 2010 word ingewag.  Meer hieroor onder Studentesimposium 2010.

 

Hoofkeusebalk

Tuisblad
Die Akademie
Museum
Standpunte
Simposium 2009
Akademiepryse 2010
Poort 2010
Taalsake
Taalberaad referate
Publikasies
Woordeboeke
Vakwoordeboek
Elisabeth Eybersbeurs
Studentesimposium 2010
Geskiedenisberaad
Werkgemeenskappe
Sleng-bekendstelling
Nuus
Draer van 'n Droom
Stichting Neerlandia
Robert Pearce
Tuisblad arrow Simposium 2009
Simposium 2009 PDF Druk Epos

Voorsittersrede - Prof. H.P. van Coller

Watter voorreg om ‘n honderd jaar van uitnemendheid te kan vier! Dit hier in Bloemfontein waar alles begin het en boonop saam met u vir wie die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns op die een of ander wyse belangrik is. Want anders sou u nie hier gewees het nie.

Organisasies wat in ons land die honderdjaar perk oorskry, is min. En vreemd is dit nie, want  slegs daardie organisasies wat sig voortdurend kan vernuwe en van wie die ideale deurgaans relevant bly, kan oorlewe. Uitnemendheid, gehalte en integriteit het geen rakleeftyd en vervaldatum nie en daarom sal die strewe daarna ook nooit gedateerd raak nie. En dit is die blywende indruk wat jy oorhou van die SA Akademie se eeulange bestaan as jy Pieter Kapp se geskiedenis onder oë gehad het: die onvermoeide strewe om Afrikaans (aanvanklik Afrikaans-Hollands) te plet tot ‘n werktuig, Van Wyk Louw se “smal swaard en blink” (of sy beiteltjie) waarmee wonderwerke kan geskied. ‘n Werktuig waarin die mees ingewikkelde wetenskaplike eksperiment trefseker beskryf kan word, maar ook die taal waarin die diepste gevoelens verwoord kan word.

Dit is niks minder nie as ‘n wonderwerk dat ‘n taal wat kwalik ‘n eeu gelede geringskattend “kombuistaal” genoem is, omskep kon word tot ‘n taal waarvan al die hoër funksies ontwikkel is: taal van die wetenskap, die regsbank, die politiek, die preekstoel en die media. Maar ook die taal van ‘n letterkunde wat in die bestek van nie veel meer as ‘n honderd jaar nie, werk kon lewer van die allerhoogste orde.

Dalk kan die S.A. Akademie ‘n klein bietjie trots wees op wat hy help vermag het in die afgelope 100 jaar: standaardisering deur woordeboeke en spelreëls, terminologieskepping, Afrikaanse tydskrifte van gehalte, aanmoediging van prestasie op die gebied van die wetenskappe en die kunste deur bekronings, die afhandeling van projekte en verslae wat dikwels ‘n blywende gevolg gehad het in die breë Suid-Afrikaanse wetenskaplike landskap, die skepping van ander wetenskapsorganisasies soos die NNS (die destydse RGN) en Assaf veral.  Kan u u voorstel dat die stigterslede van hierdie organisasie ‘n honderd jaar gelede dit ooit kon voorsien? Hulle wat dikwels geteken is deur die uitmergelende oorlog van 1899-1902 en wat swaar gedra het aan finansiële laste. En wat te kampe gehad het met die onverpooste pogings tot verengelsing van ‘n imperialistiese, koloniale moondheid?

Vergelyking in die wetenskap is ‘n gevaarlike terrein en ek is maar net te bewus van waartoe onoordeelkundige vergelyking in my eie wetenskap, die literatuurwtenskap, kan aanleiding gee: bv. die lukraak naasmekaarstel van twee dramas wat naas enkele tematiese ooreenkomste, niks gemeen het nie. Om historiese tydperke bloot met mekaar in verband te bring, is net so gevaarlik. En om te beweer dat die tydperke aan die begin van die twintigtse en een-en-twintigste eeu baie ooreenkomste vertoon, is op sig seker geen aardskuddende insig nie.

Tog word te maklik beweer dat daar géén ooreenkomste bestaan nie. Die Afrikaanse gemeenskap (en veral die Afrikaner) was aan die begin van die twintigste eeu op moedverloor se vlakte. In die Suide van die land het verengelsing ver gevorder, hoewel daar baie positiewe tekens was van ‘n groeiende nasionalisme, groter politieke seggenskap en selfs vordering op die gebied van die taal en literatuur. In die Noorde was die situasie veel erger en was die Afrikaner gestroop van besittings, politieke mag en was daar ook verdeeldheid ten aansien van die toekomstige samewerking met die Engelssprekende deel van die bevolking. Die verengelsingsbeleid is met brute krag deurgevoer, die onderwys in Nederlands was in ‘n krisis en die hoër funksies van die taal bykans  nie bestaande nie.

Vandag kan op die oog af baie moeilik in verband gebring word met tóé.  Daar is baie vordering gemaak op ‘n verskeidenheid gebeide: Afrikaans is uitgebou tot volwaardige wetenskapstaal, onderrigtaal op universiteite, taal waarin verskeie literêre hoogtepunte beslag gekry het; boonop ‘n taal wat behoorlik gestandaardiseer is met grammatikas, spelreëls, woordeboeke en terminologie. Die Afrikaner (en Afrikaansprekendes) speel ‘n belangrike rol in die land en is verteenwoordig in politieke raadsale, geregshowe, in die media en in die ekonomie.

Tog is daar baie tekens dat alles nie pais en vree is nie. Groot gedeeltes van die Afrikaansprekende gemeenskap (veral die landelike bruin mense, maar toenemend ook voorstedelike blankes) is brandarm, werkloos, het te kampe met ‘n verskeidenheid sosiale probleme en is in baie gevalle ook funksioneel ongeletterd. Deelname aan die Hoër Onderwys, deur veral bruin sprekers van Afrikaans, is erbarmlik swak.  Afrikaners is dikwels slagoffers van regstellende aksie, raak werkloos en moedeloos en emigreer op ‘n groot skaal. Die impak wat emigrasie het op die toekomstige getal Afrikaanssprekendes is waarskynlik meer as wat die sterftes in konsetrasiekampe gehad het ‘n eeu gelede.

Om te stel dat Afrikaans in ‘n krisis is, is geen nuus meer nie. Veral die hoër funksies is kwaai onder druk. Ek wil só ver gaan as om te stel dat die verlede, hede én toekoms van Afrikaans tans in ‘n drukgang is. Die hele Naln-sage is u wel bekend. Omdat die SA Akademie hier die verantwoordelikheid opgelê gekry het, het ons die afgelope meer as 15 maande prober om die Naln-sage tot ‘n goeie einde te bring. Laat ek u geheue verfris: ons het ná talle mislukte pogings (waartydens ons partykeer ná die afvangstyd van ‘n afspraak eers moes verneem dat ons gespreksgenote nie meer daar sal wees nie) uiteindelik ‘n gesprek gehad met die destydse premier, me. Beatrice Maarshoff en die huidige premier, mnr. Ace Magashule. Dit het gelei tot ‘n erfenisberaad waartydens mooi geluide opgeklink het.

Saam met mnr. Danie Cronjé en dr. Victor Hesse van die Dagbreek Trust is daar ‘n besoek aan Naln gebring en het ons uiteindelik ‘n “reddingsplan” bedink wat ook finansiële steun van die Dagbreek Trust sou impliseer. Goeie geld word egter nie in ‘n bodemlose put gegooi nie en die volhoubaarheid van Naln is steeds ‘n kwelling. Talle oproepe het uiteindelik gelei tot ‘n vergadering in Sandton waartydens al die rolspelers – óók die politici aanwesig sou wees. Ons het reeds uit Pretoria vertrek toe ons in kennis gestel is dat die kernpersoon nie meer teenwoordig sou wees nie.

Al hierdie gebeure maak my diep neerslagtig oor die toekoms van Naln wat tans uitgelewer is aan ‘n provinsiale regering wat geen besondere geskiedenis het van finansiële bepalanning, goeie en deursigtige bestuur en veral effektiwiteit nie. Boonop is baie van hul uitsprake en aksies ideologies-gedrewe. Só word ‘n belangrike deel van die geskiedenis van Afrikaans die speelbal van mense wat daardie bal maklik deur hulle hande kan laat glip.  Tans is ons weer besig om te probeer om opnuut ‘n vergadering te belê én beskik ons reeds oor die dienste van iemand wat die digitalisering van die materiaal in Naln kan behartig.

Dan: die situasie van Afrikaans in die Onderwys. U almal is bewus van herhaalde pogings om Afrikaans op sekondêre vlak nekomtedraai of ten minste te skaad. Wat die Hoër Onderwys betref, is die situasie dalk nog hagliker. Daar bestaan nêrens meer ‘n volwaardige Afrikaanse universiteit nie en volgens prof. Herman Giliomee is daar tans net twee universiteite waar studente nog volledig in Afrikaans hul hele opleiding kan ondergaan: Potchefstroom en Bloemfontein en wat die laasgenoemde betref is die aanslag tans ongekend om die universiteit eentalig Engels te maak.


Dit is egter veral die situasie by Stellenbosch wat ‘n mens bekommerd maak. Dit is as universiteit gesetel in ‘n Afrikaanse omgewing; daar is reeds twee ander volwaardige universiteite wat eentalig Engels is in die selfde provinsie en dit is ‘n histories-Afrikaanse instelling. Die jongste planne van die US wat onderrigtale betref, hou volgens kenners ernstige gevare in vir Afrikaans en kan die einde van Afrikaans as onderrigtaal binne ‘n skamele sewe jaar beteken.

U is dalk onbewus van die SA Akademie se rol in die afgelope jare: gesprekke met rektore, die  reël van byeenkomste, publiseer van verslae en boeke soos dié van Schlemmer & Giliomee. Maar wat belangrik is, is dat ons propageer dat daar op nasionale vlak gepraat moet word oor Afrikaans; ‘n taal se toekoms as wetenskapstaal behoort nie aan Stellenbosch of enige ander universiteit nie, Verander ‘n universiteit sy taalbeleid sal dit ‘n direkte gevolg hê vir die sekondêre onderwys en uiteindelik die primêre onderwys en ook die hele streek. ‘n Mens moet akademici in beskerming neem teen hul eie arrogansie.

Ek wil u nie vertel van wat ons alles doen wat betref die skryf van ‘n nuwe geskiedenis, ‘n nuwe Woordelys en Spelreëls, ‘n geskiedenis (deur Pieter Kapp), ons woordeboeke, terminologielyste, pryse en ander inisiatiewe nie.

Ons grootste uitdagings vorentoe is om van hierdie organisaies een te maak wat volledig inklusief is, waar die bindende faktore Afrikaans, sy hoëre funksies en die wetenskap in Afrikaans is. Maar waar gehalte en uitnemendheid ononderhandelbaar is.

My eie gevoel is dat akademies in ontwikkelende lande nooit net kan funksioneer soos dié in ontwikkelde lande nie. Dis goed om 50 geleerdes van wêreldklas te hê wat knus in dik rooi stoele sit en praat oor die filosofie en die lettere. Maar ons taak is ánders en sal toenemend anders wees. Ons sal moet toon dat ons ook ‘n blik het vir die samelewing en die problem wat daar heers. Nie net deur ons te buig oor sulke problem soos armoede, Vigs, geletterdheid nie, maar ook betrokke te raak op voetsoolvlak en ons kundigheid toenemend beskikbaar te stel in die oplossing van probleme. Hoe kan ons ooit hoop op groot getalle bruin akademici as duisende nie kan lees nie, nie kos het om te eet nie, te kampe het met werklosheid, armoede, gesinsgeweld en selfs ongeletterdheid en hulle dus nie op ‘n behoorlike manier onderwys kan ontvang nie? Selfs die SA Akademie sal sy hand moet uitsteek en geld moet bewillig of bekom en veral kundigheid ter beskikking moet stel van basisprobleme. Dit is die uitdaging vir die toekoms: om die wetenskap en die kunste intak te hou en uit te bou, maar ook te besef dat geen mens die teater of die konsertgebou kan bywoon as daar nie kos is om te eet nie.

 

Ontwikkel deur GigaSkills Training vir die Akademie