Die jaarlikse simposium vir nagraadse natuurwetenskapstudente van universiteite en tegniese universiteite (Honneurs, MSc, PhD en ekwivalente kwalifikasies), gereël deur die Afdelings Chemiese Wetenskappe en Wis- en Natuurkunde van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, vind op 4 en 5 November 2010 plaas. Dit word vanjaar in samewerking met die Universiteit van Pretoria (Departement Chemie en Fisika) aangebied en sluit 'n openingsfunksie die aand van 4 November in.
Vakgebiede/Studievelde
Die vakgebiede/studievelde betrokke, sluit die volgende in:
Chemie
Ekstraktiewe- en Hidrometallurgie
Fisika
Wiskunde en Toegepaste Wiskunde
Wiskundige Statistiek
Operasionele Navorsing, Kwantitatiewe Bestuur en Besluitkunde
Rekenaarwetenskap en Inligtingstelsels
Geografie (Fisies en Omgewingsgerig), Geoinformatika, Omgewingswetenskap en Omgewingsbestuur
Argeologie, Sterrekunde en Geologie
Weerkunde, Atmosfeerwetenskap en Oseanografie
Ingenieurswesetoepassings van al bogenoemde vakgebiede
Onderwys (onderrig en leer) van al bogenoemde vakgebiede
Uitnodiging
Nagraadse studente van bovermelde asook verwante vakgebiede/studievelde word uitgenooi om hulle navorsingsresultate by hierdie simposium in die vorm van referate of plakkate aan te bied. Soos gewoonlik, word bywoning deur studente wat nie aanbiedings doen nie, sowel as ander belangstellendes, verwelkom.
Die simposium skop Donderdagaand 4 November (18:30) af met 'n spogfunksie by die Universiteit van Pretoria en word op Vrydag 5 November 2010 vanaf 08:00 voortgesit.
Alhoewel geen registrasiegelde betaalbaar is nie (met dank aan die borge), moet almal wat beoog om aan die simposium deel te neem (selfs al is dit om net by te woon en niks aan te bied nie) asseblief registreer. Alle verversings en etes is ook ingesluit en hoef nie voor betaal te word nie.
Let wel: Die voertaal van die simposium sal deurgaans Afrikaans wees.
Formaat van simposium
Soos in 2009, is daar vanjaar weer 'n openingsfunksie die aand voor die simposium. Dit word by die Scienzia-uitstalsentrum op die kampus van die Universiteit van Pretoria aangebied, en sal 'n aanbieding deur 'n bekende wetenskaplike en 'n vingerete insluit. Deelnemers en belangstellendes word versoek om, indien dit enigsins moontlik is, hierdie geleentheid by te woon.
Die volgende oggend skop die simposium af met spesialislesings oor patentering en verwante onderwerpe. Op hierdie manier poog die organiseerders om 'n bydrae tot die professionele ontwikkeling van deelnemende studente lewer. Meer inligting hieroor sal mettertyd op hierdie webblad bekend gemaak word.
Na die spesialislesings volg 'n aantal parallelle sessies, waartydens studente die geleentheid het om hulle referate en plakkate aan te bied. Die aantal sessies sal bepaal word deur die aantal aansoeke om deel te neem wat ontvang word en sal op 'n later stadium op hierdie webblad bekendgemaak word.
Vereistes en prosedures vir referate en plakkate
Studente wat van voorneme is om 'n referaat of 'n plakkaat by die simposium aan te bied, moet twee tipes opsommings asook 'n motivering saam met hulle registrasie indien:
'n Uitgebreide opsomming van nie langer as 500 woorde nie, tesame met 'n Engelse opsomming van 50 woorde. (Hierdie opsommings word onder andere vir keuring vir aanbieding van die referaat/plakkaat by die simposium gebruik en uiteindelik vir publikasie in die SA Tydskrif vir Natuurwetenskap en Tegnologie oorweeg.)
'n Kort opsomming van nie langer as150 woorde nie. (Dit word vir die simposiumprogram benodig.)
'n Bondige motivering deur die promotor/studieleier waarin die aansoek om deelname ondersteun word.
Die opsommings wat teen die sluitingsdatum vir registrasie ingedien is, sal aan keuring onderwerp word. Studente sal sou gou moontlik in kennis gestel word of hulle aansoeke om 'n referaat of plakkaat by die simposium aan te bied, wel aanvaar is. Indien wel, het hulle dan genoeg tyd tot hul beskikking om hulle referate en plakkate voor te berei.
Studente moet daarop let dat hulle nie werk voordra wat hulle nog wil patenteer nie, aangesien hulle daardeur die reg tot patentering kan verbeur. Sodanige werk moet verkieslik eers deur 'n voorlopige patent beskerm word alvorens dit op 'n openbare forum aangebied word.
Publikasie van referaat- en plakkaatopsommings
Die beste uitgebreide referaat-/plakkaatopsommings sal geselekteer word met die oog op die publikasie daarvan in die SA Tydskrif vir Natuurwetenskap en Tegnologie. Hierdie tydskrif word deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns uitgegee en word ten volle deur die Nasionale Departement van Opvoeding geakkrediteer. Die publikasie van referaat-of plakkaatopsommings in hierdie tydskrif kan as 'n besondere eer gesien word en dien as aanmoediging vir studente om hul beste werk vir aanbieding by hierdie simposium voor te lê.
Pryse
Kontantpryse sal aan die wenners en naaswenners van alle sessies (referate en plakkate) toegeken word. Die waarde van die pryse vir 2010 is soos volg:
Voordragte: 1 ste prys van R 2 000 per sessie 2 de prys van R 1 500 per sessie 3 de prys van R 1 000 per sessie
Plakkate: 1 ste prys van R 1 600 2 de prys van R 1 100 3 de prys van R 600
Soos gebruiklik, is daar is ook 'n kontantprys vir 'n aanmoedingsprys aan 'n niemoedertaalspreker van Afrikaans beskikbaar, asook 'n verskeidenheid ander pryse in spesiale kategorieë. Alle deelnemers sal ook 'n individuele geskenkie ontvang. Indien ander pryse deur borge beskikbaar gestel word, sal inligting daaroor op hierdie webblad bekend gemaak word.
Vervoer en verblyf
Weens die groot afstand wat baie studente sal moet aflê om aan die simposium te kan deelneem, word beoog om
- 'n brandstofsubsidie beskikbaar te stel om uitgawes met betrekking tot 'n reis per motor te help betaal
- 'n vliegsubsidie beskikbaar te stel vir studente wat vanaf Kaapstad, Port Elizabeth of Durban na Pretoria moet reis.
Studente is self daarvoor verantwoordelik om hulle verblyfreëlings te tref. Ten einde hierdie proses te vergemaklik, is 'n lys met kontakinligting vir 'n paar gastehuise sowel as 'n aanduiding van hulle tariewe saamgestel.
Daar sal ook vervoer tussen die Oliver Tambo Internasionale Lughawe en die gastehuise in Pretoria wat op die meegaande lys verskyn, verskaf word, asook tussen die Universiteit van Pretoria en hierdie gastehuise.
Registrasie
Alle studente wat van voorneme is om 'n referaat of plakkaat aan te bied asook alle persone wat slegs die simposium wil bywoon, word versoek om die registrasievorm te voltooi en dit verkieslik elektronies in te stuur. Indien probleme met die elektroniese registrasie ondervind word, kontak asseblief vir Linda Brink by die Akademiekantoor (
).
Studente wat referate of plakkate wil aanbied, moet die verlangde opsommings as aanhangsels tot 'n e-posboodkap aan Linda Brink by die Akademiekantoor stuur. Let asseblief op die vereistes wat betref die formaat van hierdie opsommings. Die motivering deur die promotor/studieleier kan ook per e-pos aan Linda Brink gestuur word.
Erkenning van ontvangs van registrasie sal binne sewe dae gedoen word. Indien geen erkenning binne sewe dae ontvang is nie, moet navraag gedoen word by Linda Brink by die Akademiekantoor.
Sluitingsdatums
9 September: Vir studente wat referate/plakkate wil aanbied.
14 Oktober: Vir persone wat die simposium slegs wil bywoon.