Akademie logo 

Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns

Nuusflits

Inskrywings vir die Studentesimposium 2010 word ingewag.  Meer hieroor onder Studentesimposium 2010.

 

Hoofkeusebalk

Tuisblad
Die Akademie
Museum
Standpunte
Simposium 2009
Akademiepryse 2010
Poort 2010
Taalsake
Taalberaad referate
Publikasies
Woordeboeke
Vakwoordeboek
Elisabeth Eybersbeurs
Studentesimposium 2010
Geskiedenisberaad
Werkgemeenskappe
Sleng-bekendstelling
Nuus
Draer van 'n Droom
Stichting Neerlandia
Robert Pearce
Tuisblad arrow Taalberaad referate
Taalberaad Referate PDF Druk Epos

Referate gelewer tydens die Tweede Nasionale Taalberaad 2007:

  • F.W. de Klerk - Afrikaans en die gekoesterde ideaal van diversiteit in Suid-Afrika - die drumpel tussen hede en verlede
  • Christo van der Rheede - Implementering van Afrikaanse bemagtigingsprojekte
  • Paul Hoffman - Bemagtiging op regsgebied
  • Chris Landman - Perspektiewe op 'n Afrikaanse taalraad
  • Elna Boesak - Versoening in die Afrikaanse gemeenskap met ander gemeenskappe
  • Jeugperspektief: Jared Abels - Die Afrikaanse burgerlike gemeenskap aanvaar verantwoordelikheid
  • Jeugperspektief:  Kobus Ehlers - Die Afrikaanse burgerlike gemeenskap aanvaar verantwoordelikheid
  • Russel Botman - Besondere perspektiewe
  • Louis Nel - Wes-Kaapse inisiatief:  Afrikaanse gemeenskappe leer mekaar ken - netwerkbou op provinsiale vlak
  • Kobus Ehlers - Jeugperspektief
  • Kallie Kriel - Burgerregte en minderheidsbelange
  • Theuns Eloff - 'n Perspektief op die toekoms van Afrikaans in die hoër onderwys
  • Fernand de Varennes - Implementing international language rights:  challenges, difficulties, possibilities

 

Afrikaans en die gekoesterde ideaal van diversiteit in Suid-Afrika - die drumpel tussen hede en verlede - F.W. de Klerk

Die oorkoepelende tema van hierdie konferensie vra:  Waar staan ons met Afrikaans in multikulturele Suid-Afrika? 

In hierdie vraag lê daar nog ‘n vraag opgesluit, naamlik waar behoort ons met Afrikaans te staan in ‘n multikulturele Suid-Afrika?

My antwoord hierop in ‘n neutedop is dat Afrikaans en Afrikaanssprekendes nie die stief behandeling, wat op so baie terreine ervaar word, verdien nie.  Saam met prof Willie Esterhuyse, volgens ‘n artikel deur hom in Die Burger van 21 Februarie, vind ek dit ontstellend dat mnr Saki Macozoma die volgende te sê het na aanleiding van die FNB sage: 

“There is going to be a rift.  But it won’t be black and white.  It will probably be the rest versus the Afrikaans speaking community.”

Ek vind die stelselmatige erodering van Afrikaans se regte en aansprake, soos gevestig in die Grondwet, onaanvaarbaar.  Die kwessie van taal was een van die fundamentele regte waaroor konsensus bereik is.  En vandag word nie net die bepalings van die Grondwet dikwels omseil nie, maar word die gees waarin dit beding is ook nie gestand gedoen nie.  En dit is nie net Afrikaans wat nie voldoende erken word nie, maar ook al ons nader inheemse tale. 

Dit is my hoop dat hierdie konferensie, en wat daaruit mag voortvloei, ‘n daadwerklike bydrae sal maak tot regstelling van dit wat skeef loop en tot bestendiging van die rol van Afrikaans en al ons ander tale in ons multikulturele samelewing.

Hoe vaar ons in 2007 – dertien jaar na 1994?

  • Afrikaans is ‘n dinamiese taal in die mond van miljoene Suid-Afrikaners.  Dit floreer in kultuur aktiwiteite, moderne musiek en literatuur.  Onder andere getuig die talle suksesvolle kultuur- en taalfeeste wat jaarliks dwarsdeur die land plaasvind hiervan. 
  • Afrikaans is bevry van historiese politieke konnotasies.  Dit is nie meer die taal van die onderdrukker, soos ons nog so dikwels hoor nie.  Afrikaans kan ook nie meer gedefinieer word op rasse-grondslag nie. 

Vergun my in hierdie verband ‘n voetnota.  Terwyl dit waar is dat Afrikaans ‘n dominante taal in die apartheidstyd was, is dit ook waar dat stryders teen apartheid hul stryd dikwels in Afrikaans gevoer het.  Dink maar aan die Jake Gerwels en die Franklin Sonns.

Ons moet ook erkenning gee aan die rol van die Pieter de Langes van die Afrikaner Broederbond, die Willie Esterhuyses en ja, ook my broer Willem de Klerk en ander baanbrekers in die perswese.  Dit was in Afrikaans dat hulle die pad na hervorming help baan het.

Toe ek en my kollegas in die kabinet ons verreikende hervormings beplan het, het ons dit in Afrikaans gedoen.  En toe ons uitvoering aan daardie planne gegee het, was Afrikaans ons hoof voertaal. 

  • Afrikaans is nou die derde sterkste taal in Suid-Afrika, naas Zoeloe en Xhosa.  Dit word gepraat deur 14% Suid-Afrikaners – dit beteken meer as 6½ miljoen Suid-Afrikaners.  Dit is die meerderheidstaal onder ons Kleurling en Blanke bevolkings en word gebesig deur talle Swart Suid-Afrikaners.
  • Afrikaans is ook ‘n trotse taal.  Dit het ontwikkel tot volwaardige wêreldtaal en ‘n mens kan enigiets oor enige onderwerp, hoe tegnies ookal, in suiwer Afrikaans sê of skryf. 
  • Ek sou kon aangaan om die lof van Afrikaans te sing en die positiewe te onderstreep.  Dit is egter gepas dat ons ook by ‘n geleentheid soos hierdie vra na die problematiek rondom Afrikaans.  Dit is ‘n feit dat Afrikaans onder groot druk verkeer:

    • Ondanks die Grondwet word Afrikaans in al hoe minder mate gebruik in ons howe en binne Staatsverband. 
    • Afrikaans is onder druk by die SABC.  Bloot die nuwe naam van die ou meertalige SAUK getuig van die wegbeweeg van taal diversiteit. 
    • Afrikaans is onder ernstige druk in skole.  Die daling in die aantal enkelmedium Afrikaanse skole is dramaties en duur voort. 
    • Insgelyks is Afrikaans onder geweldige druk by universiteite.  Die ontwikkelinge van die afgelope paar jaar aan die Universiteit van Stellenbosch is ‘n klinkende voorbeeld hiervan.
    • Soos ander tale is Afrikaans ook onder geweldige druk binne die konteks van globalisering.  Engels met sy wêreldtaal status word al hoe meer die taal van die wêreldmedia, die sakewêreld en inligtingsisteme.  Die resultaat is dat baie Afrikaanse families die oorheersing van Engels gelate aanvaar en verkies om hulle kinders in Engels op te voed. 
    • Afrikaans is ook onder druk as gevolg van ander faktore soos misdaad, regstellende aksie en ‘n breë gevoel van onsekerheid.  Dit het tot die ongelukkige situasie gelei dat 20%+ van jong Afrikaanses die land verlaat het.

    En so sou ek kon aangaan om probleme te identifiseer.  Dit wil ek nie doen nie.  Ek hoop ook dat hierdie konferensie nie sal uitloop op ‘n soort van klaagbank nie.  Die vraag is wat ons moet doen om te verseker dat Afrikaans (en daarmee saam die ander inheemse tale) tot hulle reg kom in die nuwe Suid-Afrika.  Ek sou onder andere die volgende aan die hand doen:

    • Ons moet in ‘n konstruktiewe gees aandring op die handhawing van die grondwetlike posisie van Afrikaans in die algemeen en in die besonder ook in ons skole en universiteite. 
    • Ons durf nooit weer toelaat dat Afrikaans gekenmerk word as die taal van ras of van uitsluiting nie.  Dit is die taal van miljoene Suid-Afrikaners oor ras en politieke grense heen.  Daarom moet ons waak teen elemente wat steeds Afrikaans wil misbruik om rondom ‘n ander agenda te mobiliseer.

    Daar is by my geen twyfel dat die oorweldigende meerderheid van Suid-Afrikaners, wat Afrikaans liefhet, entoesiasties is oor die nuwe Suid-Afrika, nie wil terugkeer na die ou bedeling nie;  en hande wil vat met nie-Afrikaanse Suid-Afrikaners ten einde seker te maak dat ons land die sukses bereik waartoe hy in staat is. 

    • Ons moet verseker dat Afrikaans tot sy reg kom in die media, in uitgewery, moderne kommunikasie tegnologie en in die sakewêreld. 
    • Ons moet die vloei van emigrasie van Afrikaanses omdraai.  Dit kan ons doen deur onder andere ons gewig in te gooi by betekenisvolle stappe en aksies gerig op die oplossing van dié probleme wat aanleiding tot daardie emigrasie gee.  Soos reeds gesê sluit dit in die misdaad probleem en die wyse waarop regstellende aksie toegepas word. 
    • Ons moet Afrikaans op die voorpunt plaas van die betekenisvolle erkenning, sowel as die bevordering, van al ons ander inheemse tale.  Ek glo dat Afrikaans die vermoë het om werklik ‘n baanbreker te wees waarby alle tale in Suid-Afrika kan baat. 

    U sal hopelik aan al hierdie sake aandag gee tydens u beraadslagings.  En natuurlik is my lysie nie volledig nie.  Ek het met waardering kennis geneem van die goeie werk wat reeds gedoen is en steeds gedoen word.  Met die taal oudit in ‘n tweede fase en die werk aan taalplanne vir Afrikaans op verskillende lewensterreine, is die Nasionale Forum vir Afrikaans besig om die bul by die horings te pak.  Krag en sterkte daarmee. 

    Ek sluit af.  Een van die sleutel werklikhede in Suid-Afrika is dat ons ‘n multikulture land is.  Alle Suid-Afrikaners het gelyktydig meer as een identiteit.  Ons is almal Suid-Afrikaners maar elkeen van ons behoort ook aan een van ons 11 taalgroepe. 

    Dié feit plaas ons almal voor ‘n sleutel uitdaging:  Hoe moet ons hierdie diversiteit bestuur? 

    Die antwoord lê ten dele in ons nuwe Grondwet opgesluit – dié Grondwet wat ons enersyds saam verbind tot samewerking as lede van die Suid-Afrikaanse nasie, en andersyds waarborge gee dat ons verskeidenheid geëer en gerespekteer sal word. 

    Dit beteken vir my dat ek nooit gevra sal word om my Afrikaanse herkoms te verloën nie;  dat ek en my mense erken word as ‘n positiewe boublok binne die Suid-Afrikaanse nasie;  en dat alle ander Suid-Afrikaners dieselfde aanspraak het ten opsigte van hulle kulturele erfenis. 

    Dit beteken ook vir my dat ek geroepe is om oor kultuurgrense heen uit te reik na alle mede Suid-Afrikaners;  om saam te bou aan ons gemeenskaplike Suid-Afrikanerskap;  en om saam te werk in die soeke na oplossings vir die probleme waarmee ons land steeds worstel. 

    Nasiebou moet slaag, maar kan slegs slaag as ons aan diversiteit ‘n volhoubare en eerbare rol toeken.  Dit is nie die een of die ander nie.  Altwee – nasiebou en diversiteit – verg planmatige aandag in balans met mekaar. 

    Implementering van Afrikaanse bemagtigingsprojekte - Christo van der Rheede

Oor eeue heen is sektore van ons bevolking  onderwerp aan alle vorme van dehumanisering denkbaar en is die Afrikaanse taal as instrument aangewend om mense te onderdruk, hul denke te manipuleer en ‘n minderwaardige identiteit te konstrueer. Hierdie negatiewe beskouing van Afrikaans is veral aanwesig in die bruin en swart gemeenskap, maar moet egter nie die gesprek oorheers as ons oor die rol wat ‘n taal of tale kan speel in terme van die herstel van gemeenskappe se taalwaardigheid nie. Afrikaans, net soos ons ander inheemse tale kan juis nou, terwyl ons land deur ‘n uiters kritieke fase beweeg,  as inkubator dien om bepaalde sektore van ons bevolking, meer spesifiek die bruin gemeenskap se taalwaardigheid te herstel. Dit is sinoniem met die herstel van menswaardigheid, die herkonstruering van identiteit, die bevryding van die negatiewe self en die ontwikkeling van hoë vlak kritiese denk-, verbale-, skryf- en tegniesevaardighede. Watter bemagtigingaksies  deur Afrikaans vind reeds plaas en wat is die weg vorentoe? 

Bruin Afrikaanssprekendes se apatiese houding teenoor Afrikaans kan nie losgemaak word van hul eeuelange stryd om as volwaardige burgers in Suid-Afrika erken te word nie. Om die verskynsel beter te verstaan moet daar terug gegaan word in die geskiedenis en spesifiek gekyk word na die rol van politieke bewegings in veral die bruin gemeenskap wat sedert 1890 geveg het vir gelyke regte. Dit was veral die African Political Organization (APO), o.l.v. Dr. Abdullah Abdurahman, Z. Peregrino se Coloured Peoples’ Vigilance Council, John Tobin se Stone meeting’s en die Teacher’s League of South Africa o.l.v Harold Cressy wat sedert 1913 wat ‘n leidende rol gespeel het om gemeenskappe te mobiliseer teen die Suid-Afrikaanse Party (SAP) o.l.v Generaals Hertzog en Botha wat wetgewing voorgestaan het wat rasse-segregasie op alle vlakke van ons samelewing te weeg sou bring. Daar is veral kwaai teenstand gebied teen die Kaapse Provinsiale Taalordinansie van 1912 wat moedertaalonderrig in alle publike skole tot standerd 4 (Graad 6) verpligtend gemaak het.

Dit is teen hierdie agtergrond dat veral die bruin elite Afrikaans begin assosieer het met Afrikaner rassisme en onderdrukking. Dr. Abdurahman het ook geen geheim gemaak van sy afkeer in Afrikaans nie en dit beskryf as ‘n barbaarse Kaaps-Hollandse dialek. Dít ten spyte van die feit dat die meerderheid bruin werkersklas Afrikaans gepraat het. Vandag kan baie se apatiese houding teenoor Afrikaans dus nie losgemaak word van die letsels van rassistiese wetgewing en gedwonge verskuiwings van die verlede nie. 

Maar die apatie teenoor Afrikaans vertel egter ook ‘n ander verhaal. Dié van ‘n groeiende kloof tussen die bruin middelklas en werkersklas. Vir die werkersklas is Afrikaans die primêre instrument waarmee hulle sin maak van hul leefwêreld. Ook stel dit hulle in staat om beter sosio-ekonomiese geleenthede  te bekom. Indien dit nie die geval is nie, word ‘n groot deel van ons samelewing tot armoede en onderontwikkeling verdoem.   Dit skep ‘n teelaarde vir misdaad, bendebedrywighede, die onwettige handel, die misbruik van dwelms, alkohol en die verspreiding van TB en HIV/Vigs.  In kort - moedertaal lê die fondament vir enige gemeenskap se politieke, kulturele, religieuse, sosiale en ekonomiese vooruitgang.

In die praktyk beteken dit dus dat ons ernstig en baie krities moet besin oor dié negatiewe beskouing, veral uit die geledere van die middelklas en elite oor Afrikaans. Dit is dus juis nóú dat ons die taal moet aanwend om ook die werkersklas en hul nageslag toegang tot beter geleenthede te gee anders bly die nuwe Suid-Afrikaanse demokratiese bestel ‘n ydele droom vir die werkersklas.

Waarom is bemagtiging deur afrikaans so dringend nodig?

Volgens die sensusopname van 2001 is Afrikaanssprekende bruin jeugdiges se bywoning aan opvoedkundige instansies proporsioneel laer as die van ander bevolkingsgroepe. 21, 8 % Bruin jeugdiges op die ouderdom van 16 jaar woon glad nie ‘n opvoedkundige instansie by, teenoor 12,2% Swart, 3 % Indiër en 6,4% Wit van dieselfde ouderdomsgroep.

Verder wys die sensusopname van 2001 ook daarop dat  Afrikaanssprekende bruin mense tussen die ouderdomme 14 tot 34, 18 % van die totale tronkbevolking uitmaak.  Hierdie syfer is twee keer hoër in verhouding tot die totale Suid-Afrikaanse bevolking as ‘n mens in ag neem dat bruin mense tussen die ouderdomme 14 tot 38 slegs 8.7 persent van die totale populasie tussen ouderdomme 14 tot 38 uitmaak. Coloured youth constituted 22 000 of the 122 000 detained youth (18,0%). This proportion is more than double the proportion of coloured youth in the country (8,7%)”.

Verder dui navorsing deur die Raad vir Geestesnavorsing daarop dat die akademiese prestasie van arm Afrikaanssprekendesin die Wes-Kaap besig is om krisis afmetings aan te neem.

Bywoning op tersiêr vlak is ook ‘n bron van kommer.  54% van die Wes-Kaap bevolking is bruin, terwyl slegs 26% aan tersiêre instellings in die Wes-Kaap studeer.  Slegs 1 uit die 4 tersiêre instellings in die Wes-Kaap bied onderrig in Afrikaans aan, terwyl 55 % van die Wes-Kaap bevolking Afrikaanssprekend is.

Gegewe hierdie agtergrond is dit duidelik dat daar ‘n sosiale en opvoedkundige krisis besig is om in ‘n bepaalde segment van die Afrikaanssprekende gemeenskap te ontstaan. 

 Watter tipe bemagtigingsaksies vind reeds plaas?

Bemagtigingsaksies soos geletterdheidsklasse, basiese vaardigheids-programme, selfbeeld motiveringskursusse word deur ‘n wye spektrum van nieregeringsorganisasies, staatsdepartemente, die opleidingseenhede van die private sektor en individue aangebied.  Navorsing in die verband is ietwat twyfelagtig en is dit ontmoontlik om met gesag enige uitsprake te lewer wat dit aanbetref. 

Wat is die pad vorentoe?

Ons kan nie van sinvolle bemagtiging praat, as dit nie gepaardgaan met daadwerklike aksies om ekonomiese inskakeling veral binne die Afrikaanse handelsektor nie. Afrikaans bied ‘n nismark vir die Afrikaansprekende en dit kan nie langer slegs die domein van die bevoorregte sektor van die Afrikaanssprekende gemeenskap wees nie. 

Afrikaanse organisasies sal moet saambesin oor ‘n kollektiewe bemagtigingstrategie. Daar is te min samewerking wat dit aanbetref en ons werk nog streng volgens die ou verdelende lyne van die Apartheidstelsel. Dit vereis dat ‘n landwye bestekopname gedoen moet word van wat, waar en wanneer dit gedoen word om duplisering uit te skakel en dit te koppel aan bepaalde standaarde vir akkrediteringsdoeleiendes.

Om bemagtigingsaksies effektief van stapel te stuur moet ons die Afrikaanse mark ken  Die eerste taal Afrikaanssprekersmark in Suid-Afrika beskik oor  5.7 miljoen, waarvan 2.9 miljoen bruin, 2.5 miljoen wit,  200 000 swart en 13 800 Indiërs is.  Die aantal tweede taal Afrikaanssprekers in Suid-Afrika beloop 1.1 miljoen, waarvan 378 000 wit, 340 000 bruin, 310 000 swart en 46 000 Indiër is. 

In terme van die demografiese verspreiding van Afrikaanssprekers word die meeste in die Wes-Kaap aangetref (2.3 miljoen of 58% van bevolking). Die Noord-Kaap  se bevolking beskik oor 68% of sowat 579 000 Afrikaans sprekers.  In Gauteng beskik die Afrikaanse sprekersmark oor sowat 1.2 miljoen sprekers (16% van totale bevolking), terwyl die Oos-Kaap oor 599 245 (9.5%) en Vrystaat oor 376 156 (14%) Afrikaanssprekers elk beskik.

Statistiese gegewens dui ook daarop dat daar vanweë ‘n wye verskeidenheid eksterne omgewingsfaktore, soos politieke, ekonomiese,  kulturele, sosiale en opvoedkundige faktore, ‘n beduidende taalverskuiwing in alle provinsies en onder alle rassegroepe na Engels plaasvind. Dit beteken dus dat hierdie verskynsel oor ‘n aantal jare ‘n beduidende impak op die statistiese gegewens in die vorige paragrawe sal hê.

Bemagtigingsaksies moet dus kennis van die taalverskuiwings in die Afrikaanse taalmark en is dit uiters belangrik dat ons die sakestrategie stewig vestig op  ‘n reeks taalversterkingsmeganismes om Afrikaans as gebruikstaal op alle vlakke van die samelewing te hervitaliseer (lewe daarin te blaas), taalverskuiwing om te keer (taal te behou op plekke waar dit gebruik  word), taal te handhaaf (demografiese verval te stuit) en die taal te versprei (nuwe sprekers toe te voeg).

Bemagtiging deur Afrikaans kan nie langer vasgevang wees in ‘n kultuur van middelmatigheid nie, maar die klem moet doelgerig verskuif word van lukrake bemagtigingsinisiatiewe na die ontwikkeling en beskikbaarstelling van ‘n reeks professionele dienste deur middel van Afrikaans wat op groot skaal ‘n impak kan maak. 

Watter sosio-ekonomiese potensiaal lê opgesluit in die Afrikaanse nismark indien die fokus verskuif word na bemagtiging?

Universiteite:

  • Met aggressiewe bemarking kan studentegetalle aan Afrikaanse taaldepartemente aan ons universiteite weer toeneem.
  • Dit sal lei tot ‘n toename in die behoefte aan opleidingsmateriaal en -fasiliteite in Afrikaans.
  • Dit sal groter legitimiteit verleen aan die Afrikaanssprekende se aanspraak op minstens twee universiteite wat oorwegend deur middel van Afrikaans onderrig.

Staatsdepartemente:

  • Dit sal druk plaas op staatsdepartemente om veeltaligheid te bevorder.
  • Dit sal groter samewerking tussen alle vlakke van regering en akademiese instellings meebring.
  • Dit sal baie beslis bydra tot doeltreffende dienslewering en die menswaardige behandeling van veral arm sprekers van Afrikaans.

 Onderwys:

  • Dit sal onderwysers aanmoedig om Afrikaans met hernude passie as vak en as onderrigtaal te onderrig.
  • Dit sal die aanvraag na moedertaalonderrig vanaf voorskoolse tot op tersiêre vlak uitbrei.
  • Gehalte moedertaalonderrig sal die voorkoms van ongebalanseerde en regressiewe tweetaligheidsvaardighede die hoof bied.

Ekonomie:

  • Dit sal die uitgewersmark vir skoolhandboeke en leermateriaal verder uitbrei en werksgeleenthede vir skrywers, navorsers en teksversorgers skep.
  • Dit sal lei tot die uitbreiding van werksgeleenthede in die gedrukte en elektroniese media  (joernaliste, kopieskrywers, grafiese kunstenaars, vertalers).
  • Die behoefte aan Afrikaanse leermateriaal dien as teenvoeter vir ons universiteite se afhanklikheid van ingevoerde akademiese boeke.
  • Dit sal die mark vir koerante en tydskrifte in Afrikaans onderhou.

Media:

  • Dit sal hernude belangstelling in radio, televisie, drama, musiek, erfenis, geskiedenis geprikkel het en werksgeleenthede skep.

 Ten slotte

Organisasies soos die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans bereik maar jaarliks sowat 200 tot 250 Afrikaanssprekendes tussen die ouderdomme van 35 tot 60. Die krisis lê egter by die groep tussen 14 en 35 en dit is hier waar ons met vindingryke bemagtigingsaksies vorendag moet kom om die krisis waarna vroeë verwys, doeltreffend aan te spreek.

Vir hierdie groep is Afrikaans die ideale  inkubator om weer vir hulle hoop te gee op die toekoms,  hulle menswaardigheid te herstel, te bevry van die negatiewe self en hulle te help om met selfvertroue te kan meeding in die arbeidsmark. Indien ons hulle nie die geleentheid gee om hoë vlak kritiese denk-, verbale-, skryf- en tegniesevaardighede te ontwikkel nie, hou dit enorme sosiale implikasies in vir ons almal.

Ek vertrou dat alle Afrikaanse organisasie teenwoordig by die kongres kennis neem van die oproep en dat ons so spoedig byeen sal kom om planne in dier voege te beraam, maar belangriker nog om planmatig daaraan uitvoering te gee.

Bemagtiging op regsgebied - Paul Hoffman

Afrikaans is reeds sedert 1925 een van die amptelike tale van Suid-Afrika, toe dit Nederlands as een van die twee amptelike tale in die voormalige Unie van die vier provinsies, bestaande uit twee Boere-Republieke en twee voormalige Britse kolonies, vervang het. Afrikaans het, saam met Engels, een van die twee amptelike tale gebly waarvan die status in die grondwet van die 1961 Republiek beskerm is tot die belangrike veranderinge van 1994.

Sedert 1994 en die advent van ons demokratiese Grondwet met sy navolgenswaardige Handves van Regte, is die grondwaardes van die nuwe bestel waardigheid, gelykheid en vryheid vir almal. Waardigheid word hoofsaaklik ontleen uit respek vir elkeen se identiteit, kultuur en taal. Dit is gevolglik geen verrassing dat taal in 'n afsonderlike bepaling van die 1996 Grondwet inslag gevind het nie. Die Grondwet postuleer 11 amptelike landstale, waarvan Afrikaans een is.

Artikel 6(2) van die Grondwet vereis kontekstuele vertolking insoverre Afrikaans uit die aard van die saak 'n inheemse taal van die Republiek is; die artikel lees as volg:

"Gesien die historiese inkorting van die gebruik en status van die inheemse tale van ons mense, moet die staat praktiese en daadwerklike maatreëls tref om die status van dié tale te verhoog en hul gebruik te bevorder." 

Is dit moontlik dat hierdie artikel op Afrikaans van toepassing is? Daar is drie uitdrukkings in die grondwet wat pertinent gedefinieer word, en "inheemse tale" is nie een van hulle nie. Die woorde moet daarom gelees word in die normale grammatiese betekenis in die konteks waarin hul gebruik is. Alhoewel Afrikaans  sy oorsprong in Suid-Afrika het, is Afrikaans egter nie teen die middel negentigs van die vorige eeu aan "historiese inkorting" van gebruik of status onderwerp nie - die teendeel was eerder waar tydens die bewind van die tans ontbinde Nasionale Party.  'n Kontekstuele interpretasie van artikel 6(2) toon dus dat dit nie na Afrikaans verwys nie, ten spyte van die taal se inheemse status. Die huidige inkorting van die gebruik en status van Afrikaans is egter heeltemal 'n ander saak.

Volgens Artikel 6(3) van die Grondwet moet sowel die nasionale as die provinsiale sfere van die regering verseker dat alle amptelike tale "gelykheid van aansien" geniet en "billik behandel" word. Die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad is ingestel om "die ontwikkeling en gebruik [te] bevorder en omstandighede [te] skep vir die ontwikkeling en gebruik van" inter alia alle amptelike tale. Dit sluit Afrikaans in.

Op sowel die nasionale as die provinsiale vlakke van regering kan enige amptelike taal aangewend word, met inagneming van gebruik, doenlikheid, koste, streeksomstandighede en die ewewig van die behoeftes en voorkeure van die bevolking as geheel of in die betrokke provinsie. Op hierdie vlakke moet daar minstens twee amptelike tale "vir regeringsdoeleindes" aangewend word.

In die Handves van Regte in Hoofstuk Twee van die Grondwet is daar vyf bepalings wat relevant is tot die bemagtiging van Afrikaans: Volgens Artikel 30 het elkeen die reg om die taal van eie keuse te gebruik. Hierdie reg word ondersteun deur Artikel 31 wat persone se reg om aan 'n "taalgemeenskap" te behoort, om hul taal te gebruik, en om "taalverenigings en ander organe van die burgerlike gemeenskap te vorm, in stand te hou en daarby aan te sluit" beskerm. Artikel 7(2) verplig die staat om die regte in die Handves van Regte te eerbiedig, beskerm, bevorder en verwesenlik. Dit sluit uit die aard van die saak die reg om te kies om Afrikaans te praat, en om Afrikaanse taalverenigings te vorm, in stand te hou, en daarby aan te sluit in. Die staat mag nie regstreeks of onregstreeks onbillik teen iemand diskrimineer op grond van taal nie. Diskriminasie word as onbillik beskou tensy daar vasgestel word dat die diskriminasie billik is. Hierdie is in effek 'n opsomming van die gelykheidsbepalings in Artikel 9(3) en 9(5) van die Grondwet soos dit op taalregte van toepassing is. Laastens, het beskuldigde persone die reg om verhoor te word in ’n taal wat hulle verstaan of, indien dit nie doenlik is nie, dat die verrigtinge in daardie taal getolk word.

Dit is belangrik om kennis te neem van die feit dat taalregte nie beskou word as sosio-ekonomiese of tweede generasie regte wat onderhewig is aan "toenemende verwesenliking" binne die beskikbare middele van die staat nie. Taalregte word ingevolge die Grondwet beskou as basiese menseregte wat vervat is in die Handves van Regte en waarop daar aanspraak gemaak kan word sedert die Grondwet presies 10 jaar gelede op 4 Februarie 2007 in werking getree het.

Opsommenderwys - die Grondwet waarborg keuse van taal, en vryheid van assosiasie vir taalgemeenskappe. Dit verbied regstreekse of onregstreekse diskriminasie op grond van enige persoon se taal. Daar word van die staat verwag om taalregte te eerbiedig en te beskerm terwyl dit hul bevorder en verwesenlik.

Hierdie grondwetlike teorie het egter nie in die praktyk inslag gevind nie. Die internasionale taal, Engels, wat so geliefd is onder terugkerende bannelinge en sommige lede in die ontluikende swart middelklas, is as die lingua franca in ons land aanvaar. Engels word gebruik in besighede en industrieë, en dit is die taal van die ANC-geleide alliansie wat die parlement domineer en al die provinsies, die meeste dorpe en alle stede buiten een beheer. Die "slegs Engels" ingesteldheid is ook sigbaar in die meerderheid van fasette van die burgerlike samelewing. In die onderwyssektor is Engels die taalkeuse van ouers van diverse taalagtergronde - dikwels, minstens aanvanklik, tot die nadeel van jong kinders wat in een taal dink en in ‘n ander taal onderrig ontvang.

Grondwetlike Beginsel  X1 is die vertrekpunt van die wetlike bepalings wat tot dusvêr opgesom is. Hierdie beginsel bepaal dat: 

"Die diversiteit van taal en kultuur erken en beskerm sal word, en dat omstandighede vir die bevordering daarvan aangemoedig sal word".

Die konsep van "gelykmatige" hantering van alle tale is duidelik nie dieselfde as "gelyke" hantering, soos wat die geval was toe net twee tale as amptelike tale gekwalifiseer het wat oor "gelyke vryhede, regte en voorregte" beskik het en dit geniet het nie. Hierdie omstandighede sluit ook 'n geskiedenis van verwaarlosing van alle Suid-Afrikaanse tale buiten Engels en Afrikaans, en die gedwonge gebruik van Afrikaans as onderrig-medium in die ou Departement van Bantoe-Opvoeding en -Onderwys in.

Toe die finale grondwet deur die Grondwetlike Hof gesertifiseer is, het die hof argumente aangehoor dat die status van Afrikaans in die voorgestelde nuwe bestel verwater is. Die argumente is verwerp op die basis dat Afrikaans nie in terme van die grondwet geregtig is op enige spesiale status nie. Die Grondwetlike Hof het bevind dat die Finale Grondwet:

"[nie die status van Afrikaans relatief tot die Interim Grondwet inkrimp nie. Amptelike status is aan Afrikaans toegestaan…die feit dat amptelike status ook aan ander tale toegestaan is, verminder nie die status van Afrikaans nie."]

Buiten hierdie sertifisering-saak en 'n paar ander besluite rakende die regte van skoolbeheerrade om die onderrigtaal in skole te kies, is daar 'n gebrek aan gerapporteerde hofsake oor die onderwerp van taalregte in die algemeen en spesifiek ook die regte van Afrikaanssprekendes.

Die eerste geleentheid waarby daar 'n beroep op die howe gedoen is om die taalbedeling wat deur die huidige Grondwet geskep is te oorweeg, was in 'n dringende aansoek wat voortgespruit het uit 'n dispuut tussen POPCRU, 'n vakbond vir polisielede en tronkbewaarders, en hul werkgewer, die Regering. POPCRU-lede het verlang om die amptelike taal van hul keuse te gebruik wanneer en waar hulle wil in die verloop van hul indiensname. Hulle het die saak verloor. Die beredenering van regter De Klerk, soos wat dit in sy geskrewe uitspraak uiteengesit is, vereis herhaling:

My conclusions are as follows:  The police service is an organ of government. Section 6(3) (a) of the Constitution allows the use of: 

“Any particular official language for the purpose of government.”  It is true that the use of all official languages must be monitored in terms of the Constitution, that the state must elevate the status and advance the use of all languages and that all languages must enjoy parity of esteem, not parity of use. At all times and under all circumstances and must be treated equitably. There can be no doubts that generally it is essential that police communication and records should immediately be accessible to all policemen concerned wit those communications. It is not possible to follow a parochial approach.

It is not practical to suggest as was done, that police staffing must be structured to allow the use of local languages, also in communications and in documents, because those documents must often be accessible immediately and without the use of an interpreter to many people of whom many will probably not understand the local languages. It cannot be expected of the respondents to differentiate to a greater extent than what is contained in the orders to provide for greater freedom of use in local areas and greater advancement of all the languages.

Every employer is entitled to limit the method of official communication to a practical method which ensures that the communications are understood by all concerned. On the facts of this matter that is what the respondent did. No other practical solution has bee suggested by the applicants, not on the pages, nor in the argument. The preference of some languages and the restraint as regards the use of others, on the facts we are faced with, is unavoidable and necessary in the interest of crime detection and prevention.

If the restrictions are not permitted the chaos at the Tower of Babel will be repeated in our police force, and a tremendous handicap on our fight against crime will result. The discrimination is necessary and goes no further than what is necessary. It is also fair. The application has to fail.

As regards costs. The applicant asked on the papers that respondents be ordered to pay applicants costs however it was submitted in argument that if applicants were to fail then they should not bet burdened with the costs because this is a constitutional matter. In my view applicants must pay respondents costs. There is no merit in the application, the language problem should be ironed out around a table and not be used as a tool in labour matters to achieve other aims in the fashion adopted by applicants.

The interim approach and orders presently based on the interim approach by respondents especially in the present transitory phase are fair and reasonable and responsible. What the applicants did in my view was reprehensible and endangered law and order. The application is dismissed with costs. The applicants jointly and severally are ordered to pay the costs.

Die naaste wat die bekragtiging van die reg om Afrikaans as 'n taal van keuse te gebruik aan litigasie gekom het, was in die dispuut tussen die SAPD en ontevrede lede wat in die Wes-Kaap gestasioneer is en 'n klagte by die Sentrum vir Grondwetlike Regte ingedien het dat daar in die werkplek op hul taalregte inbreuk gemaak word deur die oplegging van 'n "slegs Engels" beleid. 

Die kwessie onder dispuut was 'n reeks tussentydse instruksies en omsendbriewe wat die gebruik van slegs een taal in verskillende scenarios in die werkplek vereis het. Nadat die opinies van twee gerespekteerde senior advokate ingewin is, het die Sentrum die Kommissaris van Polisie in die Wes-Kaap skriftelik versoek om hierdie eentalige situasie reg te stel - aangesien dit volgens die advies wat ontvang is, en wat aan die Kommissaris aangestuur is, onwettig was, omdat dit nie voldoen het aan nasionale staande bevele oor die gebruik van taal nie, en ongrondwetlik was, aangesien dit nie voldoen aan Artikel 30 van die Grondwet nie.

Die Kommissaris het, met 'n bietjie aanmoediging deur die pers - wat uitsonderlike werk gedoen het om die kwessie te publiseer - uiteindelik breedvoerig gereageer deur (in essensie) te sê dat hoewel hy niks verkeerd gedoen het nie, hy in die proses was om die meerderheid van die instruksies waarteen daar kapsie gemaak is, te herroep en dat hy "in die nabye toekoms" die oorblywende tussentydse instruksies (wat jare reeds in plek is) met 'n nuwe stel instruksies sal vervang wat gebaseer sal word op 'n omvattende taalbeleid van die SAPS. Hierdie beleid is reeds vir jare in wording, maar sou steeds "in die nabye toekoms" gefinaliseer word toe die SAPS in Februarie 2007 op die Sentrum se eis gereageer het. Aangesien die oorblywende kwessies slegs 'n paar tussentydse instruksies was wat boonop herroep sou word, is dit duidelik dat hierdie saak uiteindelik nie op tyd in die Grondwetlike Hof sal aanspraak maak nie. Die Sentrum sal die nuwe beleid en sy toepassing deeglik dophou om te verseker dat daar grondwetlik opgetree word.

Daar is sonder twyfel 'n feitelike verwatering van die posisie van Afrikaans as 'n taal in die nuwe Suid-Afrika. Dis is selfs verwyder van die doeanevorms wat almal moet invul wanneer hulle die land binnekom. Die enigste taal wat floreer het is Engels. Ander inheemse tale het selfs slegter gevaar as gevolg van hul gebrek aan die kulturele instellings wat so volop in die Afrikanerdom is en omdat opwaarts mobiele groepe Engels as hul taal van keuse beskou.

Diegene wat graag 'n ander prentjie wil sien, moet aandring op hul grondwetlike reg tot die taal van hul keuse. Die staat is verantwoordelik vir hierdie tekortkoming, maar sal daarmee wegkom tensy dit verantwoordbaar gehou word deur diegene wat redelikerwys voel dat daar op hul taalregte inbreuk gemaak word. Om aanspraak te maak op regte hoef nie noodwendig duur regsprosedures te behels nie, inteendeel behoort litigasie altyd 'n laaste uitweg te wees. 'n Goed gemotiveerde skriftelike klagte aan die oortredende staatsliggaam of organisasie is 'n goeie beginpunt. Indien die verlangde resultaat nie bereik word nie en pers-blootstelling nie die probleem oplos nie, is die Openbare Beskermer, die Menseregtekommissie, en die Kommissie vir die Bevordering en Beskerming van die regte van Kulturele-, Religieuse- en Taalgemeenskappe almal geskep met die doel om 'n kultuur van menseregte te kweek. Binne hierdie kultuur word die reg om die taal van jou keuse te gebruik deur die Grondwet gewaarborg. Indien die onlangse ENB debakel as aanduiding dien, wil dit blyk asof diegene in magsposisies 'n diepe vrees vir skriftelike klagtes koester.

Die staat is verplig om die regte wat in die Handves van Regte vervat is te eerbiedig, te beskerm, te bevorder en te verwesenlik. Hierdie regte sluit taalregte in. Die staat moet hierdie verpligting gestand doen. Tensy diegene aan wie dit behoort, op hul taalregte aandring sal hulle sekerlik wegkwyn en uiteindelik sterf van verwaarlosing.

Perspektiewe op 'n Afrikaanse taalraad - Chris Landman

Die feit dat die Afrikaanse taalgemeenskap na bykans elf jaar van die inwerkingtreding van die Grondwet van SA (1996) nog nie as ‘n Afrikaanse Taalraad gestruktureer het nie, dui daarop dat leiers op die Afrikaanse taalgebied of nie vertroud is met die bepalinge van die Grondwet hieroor nie, of gewoon nalatig is.

Die verdere feit dat die Kader Asmal Komitee van die Parlement tans belas is met die rasionalisasie van alle Hoofstuk 9 instellinge van die Grondwet, kan daartoe lei dat die grondwetlike voorsiening van die burgerlike reg om in Rade te organiseer, deur burgerlike onbetrokkenheid,  uitgefaseer kan word.

Die Grondwet (1996) is die hoogste reg van SA (a.2). Die Menseregte-akte is die grondslag van die SA demokrasie (a.7(1). Dit lê ‘n plig op die staat om die reg van die individu en van gemeenskappe te respekteer, te bevorder en te beskerm. Die Grondwet is ook bindend op die wetgewer, die uitvoerende mag, die organe van die uitvoerende mag en op die regsprekende liggame. Die Grondwet kwalifiseer wat onder ‘n oop en demokratiese samelewing verstaan moet word.

In hierdie idee van ‘n oop en demokratiese samelewing word ‘n onderskeid gemaak tussen die staat en organe van die staat aan die een kant en die samelewing en organe van die burgerlike samelewing aan die ander kant.

‘n Orgaan van die staat verwys na ‘n administratiefregtelike instrument [a.239(a)] en na ‘n funksionaris van die staat wat gemoeid is met die uitvoering van ‘n openbare staatsfunksie, waarvan regsliggame uitgesluit is [a.239(b)ii].

Wat die burgerlike samelewing en organe van die burgerlike samelewing betref, word die reg van ‘n burger verskans, om in vrye assosiasie met ander burgers, oor te gaan tot die daarstelling, en instandhouding van taal-, godsdiens- en kultuurliggame [a.31(1)(b)].

Ter ondersteuning van die hierdie reg is ‘n grondwetlike Kommissie, die Kommissie vir Gemeenskapsregte [a.185], by wet (19 van 2002)ingestel, om as waakhond op te tree vir die regte, beskerming en bevordering van die regte van gemeenskappe. Terwyl die Kommissie ‘n statutêre instelling is, is die burgerlike Rade nie-statutêr. Terwyl die Kommissie die algemene belang van alle taal-, godsdiens- en kultuurgemeenskappe moet bevorder, is die Rade daarop ingestel om partikuliere taal-, godsdiens- en kultuurregte te bevorder.

Veral die regte verbonde aan ‘n amptelike taal (a.6) is belangrik. Naas die Kommissie vir die Bevordering van Taalgemeenskappe is ook die Pan SA Taalraad [a.6(5)]. gemoeid by taalregte. Die Grondwet maak ook voorsiening vir vryheid van uitdrukking, vir onderwys in die taal van eie keuse (a.29) en by name vir akademiese vryheid [a.16(1)d], asook vir die reg op die gebruik van die amptelike tale in openbare instellinge [a.293].

Wat die staat betref is daar ‘n plig op die staat en sy organe om praktiese en positiewe maatreëls in werking te stel om die gebruik van die tale te bevorder [a.6(2)].

Gemeenskappe wat nie van bg. grondwetlike instrumente gebruik maak, om gemeenskapsbelange en regte te bevorder en te beskerm nie, skep die indruk by die owerheid dat hulle dit nie erns maak met die grondwetlike regte nie. So ‘n owerheid kan dan oordeel dat met die Kommissie vir Gemeenskapsregte en die Rade as voorbeeld, mee weggedoen word.

Let op die volgende voorbeeld. Op 23 April 1994 het die VF, die ANC en die De Klerk-regering voor die oorname ‘n ooreenkoms in sake Afrikaner-selfbeskikking, in die lig van grondwetlike beginsel XXXIV (34), geteken. Die realisering van selfbeskikking is ondergeskik gemaak aan “substantial proven support for the idea of self-determination” (3.1.1 van die Akkoord van 23 April 1994) in opvolgende verkiesings (par. 4 van die Akkoord van 23 April 1994). Ingevolge hierdie ooreenkoms is die Volkstaatsraad as statutêre liggaam tot stand gebring (nommer 5 van die Akkoord van 23 April 1994). Mede vanweë die feit dat ondersteuning nie in opvolgende verkiesings gehandhaaf is nie, is met die Volkstaatsraad weggedoen en die finale verslag nooit in die Parlement ter tafel geneem nie, ten spyte van die honderde-derduisende Rande wat aan die oprigting, instandhouding en verslag van die Volkstaatsraad spandeer is.

Intussen het die Kader Asmalkomitee van die Parlement tot stand gekom om Hoofstuk 9 Instellinge van die grondwet te rasionaliseer, sonder dat Afrikaner-kultuurinstellinge en die Afrikaanse taalgemeenskap oorgegaan het om hulleself in Rade te konsolideer en te mobiliseer. Die feit dat Afrikaner en Afrikaanse instellinge van die burgerlike samelewing apaties teenoor die Kommissie vir Regte en Pan-Afrikaanse Taalraad staan, kan deur die regering analoog aan die Akkoord in sake selfbeskikking beskou en mee gehandel word.

Daar is gevolglik ‘n dringendheid dat die Afrikaanse taalgemeenskap homself sal organiseer en sal mobiliseer om nie net voorafgaande reeds verworwe regte in stand te hou nie, maar om die Afrikaanse taal uit te bou tot spraak-, werks- en wetenskapstaal van internasionale formaat en standaard en ook hopelik oor te gaan tot die formasie van ‘n Taalraad vir die bevordering en beskerming van Afrikaans.

Versoening in die Afrikaanse gemeenskap met ander gemeenskappe - Elna Boesak

Ek is gevra om te praat oor versoening tussen Afrikaanse gemeenskappe met verwysing ook na die versoening tussen hierdie kollektiewe gemeenskap en ander gemeenskappe in Suid-Afrika. Ek is bevrees hierdie is ‘n geweldig omvattende onderwerp en sekerlik een waarmee daar daagliks, hopelik, geworstel word. Versoening en die kostes hiervan is ‘n baie, baie belangrike onderwerp. Daar is baie persepsies hieroor, daar is baie misverstande hieroor, daar is baie moedswil hiermee en dit is deurdrenk van emosies. Maar praat moet daar oor gepraat word. En gedoen word. Nie net by ‘n Taalberaad soos hierdie nie, maar by elke moontlikke geleentheid; van voetsool- tot besluitnemersvlak. Van stede tot die platteland. Deur jonk en oud, wit en swart. Daar moet hieroor gepraat word omdat hierdie ‘n knelpunt is wat, in ‘n mindere of meerdere mate, ten basis lê van die meeste uitdagings in die land vandag.

Die feit dat die organiseerders hierdie aangeleentheid as spesifieke agendapunt vir die beraad geïdentifiseer het -- en wel binne die raamwerk van die burgerlike gemeenskap se verantwoordlikheid -- sê veel. Dit gee inderdaad erkenning, nie aan die diversiteit binne die Afrikaanse taalgemeenskap nie, maar die verdeeldheid. Dit onderstreep die noodsaak om hieroor te besin.

“Versoening” is ‘n donkie wat in die Suid-Afrika van 2007 al bykans doodgery en doodgeslaan is. Dit, nog skaars nadat die arme ding behoorlik ingespan is. Dit is tot so ‘n mate al voos misplaas, misbruik en misgeïnterpreteer, dat enige iemand wat gevra word om op ‘n eerlike en verantwoordelikhede manier daaroor te praat moet weet sy loop nou ‘n terrein besaai met landmyne binne. In die lig van baie, baie mense – aan die weerskant van die die kloof van vervreemding – se toenemende gevoel dat ons demokrasie weens wantroue en agterdog onder groeiende druk is, is dit broodnodig dat ons, die burgerlike gemeenskap, weer, of miskien vir die eerste keer, die betekenis en belang van versoening ontdek by wyse van moeilike maar eerlike gesprekvoering. In gesprekke wat nie tussen die makelaars van magsblokke plaasvind nie, maar tussen die gewone burgers van die land wat (laat ons nou maar eerlik wees) mekaar en mekaar se verwysingsraamwerke en denkpatrone na twaalf jaar nog nie werklik ken, of verstaan, of respekteer nie. Wat jy nie ken nie kan jy nie verstaan. Wat jy nie verstyaan nie kan jy nie respekteer nie. Dit is dan ook in laasgenoemde – die gesprek tussen gelykes en nie onderhandelaars nie – waar die belang lê en die verskil van die verlede.

Daar moet nie oor versoening as blinkgepoetste slagspreuk wat van die tong afrol gepraat word nie, maar as opdrag van God met implikasies wat in dade gestalte moet kry en tot in die hart en verstand moet uitkring. Versoening wat volhoubaar is. ‘n Gom wat mense bymekaar moet hou ten spyte van botsende belange. Versoening stel groot eise aan ons om met mekaar omsigtig om te gaan. Dit stel aan ons vandag – meer as enige tyd sedert 1994 – die eis om mekaar te vertrou en om hierdie vertroue te verdedig.

Historikus, prof Albert Grundlingh het onlangs opgemerk:  “Dit is misleidend om te dink die verlede kan as uitgewis beskou word dertien jaar nadat ‘n nuwe bedeling begin het. Historiese naweë het nie noodwendig ‘n bepaalde rakleeftyd nie.” En dit is ons dilemma.

Uit hoofde van die feit dat “wit” Afrikaans en dus die wit Afrikaanse taalgemeenskap vir dekades agter die stuurwiel van apartheid gesit het, rus daar vandag op hierdie taal – en dus die sprekers daarvan: wit en bruin en swart, verál ‘n besondere verantwoordelikheid om ‘n versoenende rol te speel. Juis daarom is dit so belangrik dat verwikkelinge en verskynsels wat verdere verdeling en vervreemding uit hierdie oord kan bring fyn dopgehou, eerlik  ontleed en daadwerklik aangespreek moet word waar nodig.

Dat Afrikaans en die sprekers van hierdie taal – àl die sprekers van hierdie taal – ‘n sleutelrol in die versoenignsproses en die daarstelling van ‘n verenigde, regverdige en vreedsame Suid-Afrika wat groei moet speel is ‘n gegewe. Wat nìe ‘n uitgemaakte saak is nie, is of Afrikaans oor dìt beskik wat nodig is  om hierdie kritieke rol te speel in ‘n tyd wat versoening en stabiliteit toenemend getoets gaan word en onder druk gaan kom. Moet Afrikaans die voertuig vir versoening wees? Ongetwyfeld, jaKan versoening deur Afrikaans bevorder word? Dìt is waaroor daar gepraat moet word.

Ek is van mening dat enige Afrikaanse taalstryd en strategie vir die instandhouding en uitbouing van die stand en status van die taal op sand gebou wees sal wees as dit ontkoppel word van die nasionale versoeningsvraagstuk.

Die vraag wat dus deel van enige bespreking oor Afrikaans moet wees is:  Dra agendas, strategieë en besluite oor die taal by tot versoening in ‘n steeds verdeelde taalgemeenskap, maar ook ‘n steeds verdeelde algemene bevolking?

In reaksie op ‘n vraag van my oor die aksentpunte wat ek binne hierdie onderwerp moet aanspreek het Prof Van der Elst laat weet: “die hoofklem moet nogal by Afrikaans lê, omdat die hele beraad oor Afrikaans gaan.” Ek moes by myself glimlag. Natuurlik gaan dit oor Afrikaans, maar in die Suid-Afrika van 2007 word bykans elke brandende sosiale, maatskaplike en kulturele kwessie – net soos in die middel tagtigs toe die bevrydingsstryd op sy felste gewoed het – bykans sonder uitsondering inhoud gegee en gekleur deur die geldende invalshoeke en onderstominge in die politiek van die dag: onderwys, gesondheid, behuising, landbou, ontwikkeling en, helaas taalkwessies.

So onlangs soos hierdie week nog het Prof. Neville Alexander – Direkteur van die Projek vir die Studie van Alternatiewe Onderwys in Suid-Afrika aan die U.K. -- gewaarsku dat Afrikaans nie ‘n politieke speelbal of ‘n turksvy in die Wes-Kaap moet word wat veroorsaak dat díe taal uitsterf en díe gemeenskap verdwyn nie. Prof. Alexander het weer bevestig dat Afrikaans ‘n regmatige plek in die provinsie het – en in die land sou ek bevoeg -- maar dat dieselfde vir ander tale soos Xhosa en Engels geld. Ek is egter bevrees die taalkwessie van Suid-Afrika was al lankal en is nog steeds‘n politieke voetbal wat dikwels ongekende antagonisme ontketen. 

Ek het gepraat van verwikkelinge en verskynsels wat vanuit die Afrikaanse taalgemeenskappe dopgehou moet word. Die huidige debat oor die in- of uitsluiting in die Vryheidspark Monument van name van lede van die Apartheidsera Weermag – of “troepies” -- wat destyds gesterf het, plaas die versoeningsproses in Suid-Afrika weer deeglik op die agenda en meen ek, ook onder druk. Die Afrikaanse taalgemeenskap staan midde in die storm wat losgebars het oor die vraag of die opofferings van en kostes vir soldate aan die twee opponerende kante van die bevrydingsoorlog gelyke erkenning behoort te kry. Die emosies wat dit ontketen woed in Afrikaans en is ‘n aanduiding dat daar inderdaad baie ongedane sake in terme van waarheid en versoening is. Dieselfde geld vir sake soos regstellende aksie. Ook hier  word waarskuwings, verwyte, aantygings, vrese, en so meer in Afrikaans gedoen en is die Afrikaanse taalgemeenskap midde-in ‘n dispuut wat vervreemding bring en verdelend is.

Daar was oor sensitiewe aangeleenthede soos hierdie, meen ek, nooit werklik eerlike en deurdringende gesprekke tussen die wit en swart/bruin Afrikaanssprekendes en Afrikaanssprekendes in ander taalgemeenskappe nie. Die diskoers word oorgelaat aan die magsmakelaars wat ek vroeër genoem het en instansies en individue wat namens almal en met ‘n bepaalde invalshoek praat.

Die nuwe Suid-Afrika se wittebrood is oor. Alle aanduidings is dat die werklike uitdagings vir versoening en eenheid nou eers na vore kom. Robuuste publieke gesprekvoering – ook in en oor Afrikaans -- is goed. Om die waarheid te sê, dit is van deurslaggewende belang in ‘n gesonde deelnemende demokrasie. Maar indien die stemme wat die hardste debatteer oor plofbare kwessies soos regstellende aksie, die beoordeling en aanbieding van die land se apartheidsgeskiedenis en die toekoms van die Afrikaanse taal en kultuurgeskiedenis op ‘n wit Afrikaanse monoloog neerkom, gaan ons moeilik die polarisasie wat aan die groei is kan bestuur of staak. 

In sy BBC program oor Afrikaans, The Struggle for Language, vra Mike van Graan of die nuwe stryd vir Afrikaans nie die taal herstigmatiseer nie. In reaksie hierop voer Gerrit Brand, boekeredakteur van Die Burger aan dat die taalstryd vir geen sosiale beweging terug behoort te staan nie en dat taalaktiviste hulself nie moet laat afskrik deur ‘n geskiedenis waarin verset teen taaloorheersing as “onpatrioties” gestigmatiseer word nie. Ek stem 100% hiermee saam en ook oor die belang wat die Afrikaanse taaldebat nou het. Ongelukkig is dit egter ‘n onweerlegbare feit dat jy nie as ‘n span die wa deur die drif kan trek as jy nie dieselfde oewer in sig het nie. Natuurlik is dit twak om sodanige aktiviste as konserwatief of reaksionêr af te maak, maar net as so ‘n stryd almal insluit en ‘n gedeelde visie, agenda en strategie het.

Binne die Afrikaanse taalgemeenskap is daar – met die uitsondering van enkele bekende en reeds voorspelbare stemme aan beide kante van die kleurskeiding – nog geen noemenswaardige gesprek om oor so ‘n gedeelde visie, agenda en strategie te besin nie. My reaksie op Mike Van Graan se vraag is dus die volgende: die gevaar dat die nuwe taalstryd --- en ek het werklik ongemak met hierdie term – tot herstigmatisering sal lei is net wesenlik as dit ‘n wig indryf tussen die sprekers van die taal en Afrikaans en die res van die land. 

Voorbeeld: Die aankondiging en aanbieding van die sogenaamde “Native Club”, ‘n etniese swart denkskrum, het, tereg, ongemak gelaat by mense wat van mening is dat inklusiwiteit en nie-rassigheid nog lank nie die vaste fondament is wat ons demokrasie behoort te hê nie. Daar is uit verskeie oorde gewaarsku dat hierdie insiatief miskien wel die absolute grondwetlike reg het om te bestaan en dat dit selfs sinvol tot die noodsaaklike verskeidenheid van perspektiewe in die publieke diskoerse van ons tyd kan bydra.  Waarskuwings het egter gekom dat dit onder die vergrootglas gehou moet word en dat daar uitgekyk moet word vir ‘n “Afrikanistiese” agenda wat kan polariseer en verdeel.

Die huidige Afrikaanse taaldebat se intellektueel-filisofiese “verankering” lê hoofsaaklik in die verhewe diskoers van en tussen ‘n hanvol wit en hoofsaaklik manlike Afrikaanssprekende akademici en intellektueles. Die diskoers oor die stand en status van Afrikaans word dan ook regstreeks aan die stand en status van die sogenaamde “Afrikaner” gekoppel. Ek haal aan uit die inleiding van voorbladartikel van Vrye Afrikaan, ‘n publikasie in die kamp van die FAK en waarvan die hele redaksie wit is:

“Afrikaners word vandag met ‘n wesenlike vraag oor die toekoms gekonfronteer: Is daar nog vir Afrikaners as ‘n unieke kultuurgemeenskap ‘n toekoms waarbinne hulle saam met die veelheid van ander demokratiese gemeenskappe in Suid-Afrika ‘n vrye, en voortreflike lewe kan najaag?”

Hierdie is ‘n vraag en hermeneutiese vetrekpunt wat soos ‘n goue draad deur die FAK Manifes en hierdie publikasie se sentimente, kommentare en menings loop en wat nou op wit Afrikaanse voetsoolvlak – soos die veel besproke en besonge Generaal -- stewig aan die gallop is. Net soos met die “Native Club” het hierdie assosiasie en agenda volle bestaansreg in ‘n demokratiese Suid-Afrika. Maar hier lê die problematiek daarvan: Dit slaan op ‘n asemrowend-onapologetiese en veelseggende manier die deur toe in die gesig van bruin/swart Afrikaanssprekendes. ‘n Deur wat dan, om sout in die wonde te vryf, so nou en dan op ‘n skrefie oopgemaak word as statistiek of ‘n bruin gesiggie nodig is om ‘n Afrikaanse taalbeleid die regte kleurtjie met die regte brokkie statistiek te gee.

Binne die bruin/swart taalgemeenskap verkneukel baie, dis nou díe wat hulle nie vervies nie -- hulle vir die arrogansie en onnoselheid van wit intellektueles om, na alles wat baie onlangs nog in apartheid Suid-Afrika gebeur het, te dink dit is steeds hul reg en verantwoordelikheid om namens “bruinmense” te praat en om hulle agendas dan sommer ook “bruinmense” se agendas te maak. Bruin/swart leiers en kultuuraktiviste soos Christo van der Rheede, uitvoerende hoof van die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans, die skrywer Abraham Phillips en besighiedspersoon en taalkundige Christa van Louw pleit vir ‘n geruime tyd al dat Afrikaans vir hierdie groep as bemagtigingsinstrument beskou moet word. Hulle deeglike argumente en geloofwaardige aanbevelings val egter op dowe ore doodeenvoudig omdat hul stemme nie gehoor en ter harte geneem word in die geraas en rumoer wat aan die gang is nie.

Dr Frederik van Zyl Slabbert, wat saam met Breyten Breytenbach, en Prof. Hermann Giliomee ‘n sterk standpunt oor die taalbeleid van universiteite soos Stellenbosch ingeneem het, het per geleentheid ‘n beroep op die “Afrikaanse taalgemeenskap” gedoen om haar prioriteite agtermekaar te kry en minstens een universiteit “te red”.  Soos Prof. Giliomee meen hy dat daar eenstemmigheid oor hierdie aangeleentheid bereik moet word. Solank daar nie duidelikheid is oor wìe die “Afrikaanse taalgemeenskap” is wat hul prioriteite agtermekaar moet kry en veral wie namens hulle praat en moet praat nie, sal daar nie ‘n versoening van agendas en strategieë wees nie. Prof. Russel Botman se aanstelling as rektor van U.S. en veral sy eerste opmerkings oor die regstellings- en versoeningstaak wat Afrikaans – en dus die sprekers van hierdie taal – binne die breër Suid-Afrikaanse gemeenskap het, het ‘n nuwe platform en geleentheid geskep vir eerlike gesprekvoering tussen gelykes. Mag hulle wat die huidige impasse as verlammend en verdelend ervaar se hoop, dat hierdie kans benut sal word om sinvolle, inklusiewe diskoers te begin voer en ‘n versoening tussen perspektiewe en belange te bring, nie beskaam word nie. Tot dit gebeur, sê ‘n bruin/swart skoolhoof van die platteland vir my nou die dag, sal ons maar inisiatiewe soos die nuutgestigte Adam Tas-studentevereniging se leuse: “Ons Transformeer in Afrikaans” maar met ‘n sakvol sout sluk.

Max du Preez waarsku oor die volgende tendens:  “…die slap riem waarmee die nuwe Afrikaner-aktiviste ons probeer vang,” sê Du Preez, “is geleerde argumente wat wil se dit is deesdae progressief, selfs links, om stamgebonde te wees. Dan haal hulle voorbeelde van gemarginaliseerde inboorlinggroepe aan wat op etniese outonomiteit aandring en wys daarop dat die verenigde nasies die eise steun.”

Daar is in die Suid-Afrika van 2007 ‘n herkenbare groei van groep(ras)gebonde nasionalisme. Soos die Native Club met sy beweerde Afrikanistiese agenda en die Vrye Afrikaan/FAK met sy verklaarde Afrikaner agenda, is daar ook binne die bruin gemeenskap diegene – soos die leiers van groot charismatiese kerke -- wat ‘n “kleurling” nasionalisme in geen onsekere terme nie aanmoedig. Dit in reaksie op verwikkelinge in die “wit” en “swart” landskap. Hierdie is ‘n tendens wat ons nie moet of kan bekostig om te ignoreer nie.

Op ‘n meer positiewe noot is die feit dat daar klaarblyklik binne die wit Afrikaanssprekende gemeenskap diversiteit en selfs spanning is: daar is diegene wat gevul is met die De La Rey-gees, diegene wat tien jaar gelede saam met Boetman net “vies” was, maar nou diep depressief en galbitter hul dogters en seuns saam met hulle agter die hoe mure van wantroue en apatie onttrek; diegene wat die pad na groener weivelde gevat het of wil vat; diegene wat uitgevind het waarom die weivelde aan die anderkant groener is en weer wil huistoe wil kom en dan is daar diegene wat hul weg in die nuwe Suid-Afrika as “Afrikane” probeer vind. Hierdie is dus geen homogene groep met ‘n enkele naam of omskrywing nie.  En dit is goed so.

Vir die doeleindes van versoening is dit egter baie eenvoudig: die beeld van die “Afrikaner” wat dinge moeiliker of makliker sal maak is die gestalte en profiel van die wit Afrikaanssprekende wat die hardste praat en die meeste te sê het. Dan moet ons maar eerlik wees oor wie dìe person of die oomblik is:
Staan hy (ek dink beslis dis ‘n hy) die afgelope dertien jaar op die rand van die demokrasie en klou vir lewe en dood vas aan wat sy eie identiteit en eiendom is of staan hy met ‘n oop gemoed en oop hande midde in ‘n nuwe bedeling; gereed om uitdagings met ‘n positiewe ingesteldheid in die gesig te staar en aan te pak?

As die stem wat die hardste namens die wit Afrikaanssprekende gemeenskap praat nie laasgenoemde is en bly nie, het ons ‘n probleem. Geen bruin of swart Afrikaanssprekende en nie-Afrikaanssprekende kan of sal skouers wil skuur of identifiseer en versoen met die randfiguur wat hom apart voel en hou nie.

Wat die gesprek oor die stand en status van die Afrikaanse taalgemeenskappe interessant en belangrik in en vir die Suid-Afrikaanse demokrasie maak, is juis die feit dat hierdie nie ‘n homogene en waterdigte eenheid is of moet wees nie. Die ryke diversiteite in uitdrukkingsgestaltes, perspektiewe en invloede in hierdie taalgemeenskap moet beskerm en vertroetel word. Wat nie beskerm en vertroetel moet word nie is agendas wat die noodsaak en verantwoordelikheid van transformasie en regstelling minimaliseer en verdag maak en wat die taal aanwend om wantroue te saai. 
 
Wit en bruin/swart sprekers van Afrikaans moet in harmonie en samewerking met ander taalgemeenskappe kan werk. Hulle kan dit nie doen as hul nog nie eens met mekaar kan saamleef en saamwerk nie. Ons is nog nie by die punt dat ons saam strewe vir geregtigheid, vrede en verdraagsaamheid nie. Ons strewe nog grotendeels apart. Afrikaans het, weet ons vir ‘n feit, vir dekades die septer geswaai ten koste van die sprekers van ander inheemse tale. Dit het vervreemding op meer as een vlak gebring: polities, ekonomies, maatskaplik en sosiaal. Die nalatenskap van wanbalanse op hierdie terreine is daar vir almal om te sien. Regstelling in hierdie verband is ‘n gegewe.

Die vurigheid waarmee daar in sekere geledere kapsie gemaak word teen die kostes en implikasies van die regstelling van hierdie wanbalanse – soos om Afrikaans te verplig om in gelyke statusverband met die ander tien amptelike tale te funksioneer -- kan en word sekerlik deur buitestaanders vertolk as ‘n onwilligheid om die praktiese implikasies van meertaligheid te aanvaar. Swaarde word met die regering oor moedertaal onderrig in Afrikaans gekruis terwyl moedertaalonderwys in die ander landstale, met uitsondering van Engels, op veel meer wankelende bene as binne Afrikaanse geledere staan. Dat daar so luidkeels en dikwels insensitief vir die behoud van ekslusiewe Afrikaanse universiteite geveg word terwyl honderde kinders nog onder bome skoolgaan, hou die gevaar in dat dit op voetsoolvlak hierdie taalgemeenskap van mede-landgenote vervreem.

Afrikaans se reg op bestaan is ononderhandelbaar. Maar hierdie reg moet binne ‘n dikwels misgekykte werklikheid verstaan word: die wêreld waarin ons vandag leef is nie wit en Afrikaans nie; dit is nie-rassig en multi-kultureel.  Afrikaanssprekendes sal hul plek in hierdie gegewe moet vind en ken as hul hul beeld na buite wil verander. 

Ek volg nou 'n rukkie al die hele De La rey histerie en is werklik baie min lus om hieroor te praat. Ek dink egter dit is belangrik om ‘n paar vrae hieroor – soos dit met die beeld van veral die “Afrikaner” na buite en ‘n groeiende nasionale obsessie met identiteit verband hou, op die tafel te sit:

  • Dien die voortgaande diskoers oor hierdie fenomeen die Suid-Afrikaanse demokrasie en dan veral ook die stand en status van die wit Afrikaanse taalgemeenskap (wat hulself hoeka al in sekere geledere gemarginaliseer voel) op ‘n positiewe manier?
  • Wat is die profiel en denkpatrone van die wit Afrikaanssprekendes wat inspirasie put uit nasionalistiese liedere soos Ou Ryperd en die De La Rey nommer en wat gemiddelde sangers tot volkshelde verhef en die status van presidentskanidate en kultuur aktiviste gee? Dit alles ter wille van ‘n stryd vir Afrikaans en die Afrikaner en ter uitsluiting van   uitsluiting van bruin/swart  Afrikaanssprekendes?
  • Dit sal inderdaad, meen sommiges, goed wees as die De La Rey fenomeen help om onseker wit Afrikaanssprekendes ‘n gesonde selftrots en beeld te gee. Maar wat as hierdie die masker is waaragter 'n groter realiteit skuil: die verlange en hunkering na 'n era voor magsverlies; die identifisering met 'n uitdrukking en bevestiging van wit manlikheid en gesag wat in die huidige SA demokrasie polities inkorrek en onvanpas is. Wat as dit spreek van ‘n soeke na 'n verwysingsraamwerk en identiteitsprofiel om die die apartheidsparadigmas -- wat immoreel verklaar is – net in ‘n ander gestalte te vervang?
     
    Ek dink die sogenaamde De La Rey fenomeen moet nie in isolasie beskou en oordeel word nie. Bruin en swart medeburgers lees dit as deel van ‘n groter patroon wat  besig om na vore te kom. Dit verteenwoordig ‘n agenda wat dit vir die meerderheid burgers van hierdie land moeilik maak om te glo dat “Afrikaners” bereid is om die Afrikaanidentiteit te aanvaar. En om ‘n paradigmaskuif te maak.

Ek dink regdenkende kommentators is dit eens: die De La Rey lied is in sigself nie skadelik nie, maar as dit en ander soortgelyke insiatiewe en verwikkelinge die voertuig vir etniese konsolidasie en verheerliking is, gaan dit versoening met die ander Afrikaanssprekendes onder geweldige druk plaas. Dit gaan ‘n onreg doen aan die Afrikaanse taal en aan daardie wit taalgebruikers wat met entoesiasme en eerlikheid hul plek binne 'n diverse Suid-Afrikaanse gemeenskap en op die Afrika vasteland wil volstaan. En hierdie is die “middelgrond” wit Afrikane wat of rééds met swart en bruin broers en susters versoen het of dit bittergraag wil doen maar nie weet hoe nie. “Middelgrond Afrikane” wat bereid is om te aanvaar dat identiteit nie staties is nie, maar – soos ‘n taal – aanhoudend groei soos wat die draer daarvan en prater daarvan se lewensverhaal ontvou.

Dit is híer waar die son van die Afrikaanse taal se versoeningsenergie brand: in ‘n gedeelde liefde vir Suid-Afrika, ‘n gedeelde sin vir verantwoordelikheid om reg te maak wat in die verlede verkeerd gedoen is, ‘n gedeelde visie van ‘n demokrasie wat verskeidenheid respekteer, opofferings verstaan en verskille verdra.  ‘n Afrikaanse taal wat weet dat sy in haarself die antwoord vir versoening bied: haar multi-kulturele, diverse ge-kreoliseerde Afrika oorsprong en karakter. In haar versoen sy boorlinge van Afrika wat nooit van mekaar vervreem moes geraak het nie. Deur haar word klowe weer oorbrug. Sy’s niemand se eiendom nie, maar almal se rykdom. 

Terwyl doemprofete woel en worstel oor haar toekoms, maak vreemdelinge hulle tuis teen haar bors. Sy het haar arms wyd oopgegooi, nooi vriend en vreemdeling om haar weer te leer ken en haar gasvryheid te toets. Ons hoor stem in die slaaf en slavin wat hul regmatige plek in die geskiedenis opeis, in die diva wat vertel van die berge wat nog so blou lê, in die vryheidsvegter wat rym en dig, in die parade prediker wat die “Goeie Nuus” bring en die wit Zoeloe wat grense oorsteek.

Ten spyte van al die realiteite en uitdagings wat in die weg van versoening in en deur die Afrikaanssprekende taalgemeenskappe staan, glo ek onvoorwaardelik dat dit baie goed met hierdie taal gaan. Nie met die taal wat ‘n wapen is om agter mee te verneder, seer te maak of te marginaliseer nie, maar die taal wat uitdrukking gee aan verwagtinge en vrese. ‘n Taal  wat die karweier is van versugting en lofprysing. ‘n Taal wat aanmoedig, vermaan, inspireer, bematig en genees. ‘n Taal wat versoen.

Die Afrikaanse taal groei en floreer. Sy’s besig om haar weg te vind in ‘n nuwe speelveld. Sy debateer, sy sing, sy skryf en rebeller, sy voorspel en waarsku, sy pleit en dramatiseer. Sy sien die uitdagings wat haar in die gesig staar as onbegrensde moontlikhede om haar wortels verder in Afrika te anker terwyl sy vernuwe.  Maar sy sien dit ook as waarskuwings om nooit weer haar siel te verkoop en haar hart te verpand nie. Afrikaans is van binne besig om te genees.  Sy praat met gesag, ween met passie, prys met oorgawe, stry met integriteit. Die kettings wat haar eens gebind en die boeie wat haar eens geknel het is gebreek. Afrikaans trap nuwe spore in die voetpad en sy fluister vandag in ons harte: Moet my asseblief nie pootjie of van koers af haal nie. Ek is van Afrika en in Afrika. Ek is hier gebore en getoë en lank nadat geslagte wat my gepraat het gekom en gegaan het, gaan my stem bly klink op straathoeke, in plekke van aanbidding, in verse en tussen lyne, in wiegieliedjies…

Ek praat met ‘n ou en nuwe tongval. Word vir ‘n oomblik stil en luister na wat ek sê.

Die Afrikaanse burgerlike gemeenskap aanvaar verantwoordelikheidJeugperspektief

  • Jared Abels

Gedeeltes van Thabo Mbeki se “I am an African” toespraak:
I owe my being to the Khoi and the San whose desolate souls haunt the great expanses of the beautiful Cape - they who fell victim to the most merciless genocide our native land has ever seen, they who were the first to lose their lives in the struggle to defend our freedom and dependence and they who, as a people, perished in the result

I am formed of the migrants who left Europe to find a new home on our native land. Whatever their own actions, they remain still, part of me

I am the grandchild who lays fresh flowers on the Boer graves at St Helena and the Bahamas, who sees in the mind's eye and suffers the suffering of a simple peasant folk, death, concentration camps, destroyed homesteads, a dream in ruins.

Being part of all these people, and in the knowledge that none dare contest that assertion, I shall claim that - I am an African.”

Hy gaan verder om te sê:

The constitution whose adoption we celebrate constitutes and unequivocal statement that we refuse to accept that our Africanness shall be defined by our race, colour, gender of historical origins. It is a firm assertion made by ourselves that South Africa belongs to all who live in it, black and white.

Hoe pragtig klink hierdie woorde nie. Dit is net ‘n jammerte dat dit die werk van ‘n briljante toespraakskrywer was. Hoekom sê ek so mag u dalk vra, want ons lewe nog in ‘n wêreld waar mense op die kleur van hul vel veroordeel word, waar mense nie erkenning wil gee aan die bestaansreg van ander groepe nie en die hartseerste geval van almal, is mense wat nie omgee oor hul herkoms of afkoms nie.

Ons as Suid-Afrikaners is nog te vasgevang met die klassifisering en etikettering van mense.

Dit is tyd dat ons ons oë oopmaak sodat ons kan besef dat klassifikasie niks anders as verdeeldheid veroorsaak nie. Ek dink dat al die terme van Afrikaner, Afrikaan, blank, swart en nog so meer, heeltemal onnodig is, want sodra jy byvoorbeeld die term Afrikaner gebruik, sluit jy die meerderheid mense van Suid-Afrika uit. Hoe kan jy dan werk om die belange van die Afrikaner te wil bevorder, sonder dat mense buite die groep dink dat die Afrikaners net hulle eie belang wil bevorder en nie omgee oor hulle wat buite die groep val nie.

Ek sê daar moet weg gedoen word met al die terme en ons as die nuwe generasie moet net een nuwe term definieer wat as die nuwe Afrikaan bekend staan. Wat definieer jou as ‘n nuwe Afrikaan?

Wel ‘n nuwe Afrikaan respekteer sy medemens en hy sien homself gelyk met sy mede-Suid-Afrikaners. ‘n Nuwe Afrikaan is ‘n persoon wat terugkyk na die geskiedenis en almal, van Shaka Zulu tot Genl. De la Rey, as sy voorvaders beskou. Hy is ‘n persoon wat die geskiedenis gebruik as ‘n leerbasis en hy wil nie hê dieselfde foute moet begaan word nie. ‘n Nuwe Afrikaan is ‘n persoon wat ander se kulture en tale respekteer, hy is nie ‘n persoon wat ander wil afkraak vir wie hulle is nie.

Net jy kan jou self uitsluit uit hierdie term, maar dus altyd vir jou moontlik om ingesluit te word binne die term, jy moet net aan die bogenoemde vereistes voldoen.

Nou sodra ‘n mens sê daar moet weggedoen word met die term Afrikaner gaan baie mense dalk kwaad word omdat hulle dink:”Ek kan nie dit doen nie, wil jy hê ek moet vergeet hoe my ouma se ouma ‘n voortrekker was, hoe my ouma in ‘n konsentrasie kamp byna al haar kinders aan die dood afgestaan het. Ek kan dit eenvoudig net nie doen nie.”   Wel dit is nie wat ek sê moet gebeur nie. Ek wil net hê dat elke Suid-Afrikaner dit as hul geskiedenis moet sien, ek wil hê almal moet na die geskiedenis van Shaka Zulu kyk en hy dit ook as sy eie geskiedenis moet aanvaar, want het dit tog nie alles ‘n invloed gehad op wat Suid-Afrika vandag is nie?

Daar is alewig berugte in die koerante dat die Afrikaner/Bruingemeenskappe verstoot voel, dat die gemeenskappe voel hulle kultuur en taal word afgebreek, dat hulle voel dat hulle leierloos is. Ek sê genoeg is genoeg, dit is tyd dat hierdie gemeenskappe hulle deel moet sien van Suid-Afrika. Kan ons nie sien dat ons almal gemeenskaplike probleme het, maak nie saak wat die kleur van jou vel is nie, byvoorbeeld misdaad en armoede. Ons moet besef dat ons leiers moet soek met insig tot die probleme en ons moet nie soek vir mense met dieselfde vel kleur as ons nie, want ‘n leier met regte insig tot hierdie probleme sal luister na almal en hardwerk om oplossings te vind, wat elke gemeenskap tevrede sal stel.

Ons, dames en here, het vir die wêreld gewys, met die val van apartheid, dat die oorgang van een politieke era na ‘n ander sonder geweld kan plaasvind. Dit kon so maklik ‘n ander situasie gewees het. Hoe dikwels sien ons in die geskiedenis dat as een groep binne ‘n land mag gaan verloor, dat bloedstorting onafwendbaar is nie, maar die oorgang het rustig plaasgevind omdat ons aanvaarding en verdraagsaamheid getoon het. Hoekom kan ons dit nie nou net ‘n stappie verder vat en ook oor die taal- en kultuurgrens hierdie dissipline af lê nie. Ek staan elke dag in verwondering as ek sien hoe Christene en Moslems in vrede en harmonie in Mitchell’s Plain saamleef. Hoekom kan ons nie ook oor die ras/kultuur/taal-grense ook in harmonie en vrede saamleef nie.

As ek nog eenkeer hoor hoe mense praat van ‘n volkstaat en hoe dit die enigste manier is hoe die taal en kultur van ‘n gemeenskap kan oorleef, gaan ek persoonlik daardie persoon oor die vingers tik. Want as ‘n taal/kultuur enigsins kan voortbestaan hang dit af van sy vermoë om met ander tale en kulture in te pas.

Die regering moet die “ubuntu” beginsel, waarop die ANC sy bestaan gebaseer het, begin uitleef. Dit lyk net vir my of hulle nie meer die mense van Suid-Afrika se belange op die hart dra nie en in hierdie verband praat ek nie net oor die taaldebat nie of oor die probleme met die naamsverandering nie, maar ook oor die misdaad probleem.

Ek stem saam met Koos Kombuis as hy sê dat die nuwe Suid-Afrika nog nie begin het nie, want volgens my mening as ons in die nuwe Suid-Afrika gebly het, sou ons ware verdraagsaamheid en aanvaarding getoon het en sou daar nou nie baie bekommernisse gewees het oor die volhoubaarheid van Afrikaans in ons gemeenskap of die bestaansreg van ‘n groep binne Suid-Afrika nie. As ons in die ware nuwe Suid-Afrika gebly het sou ons ‘n deursigtige regering gehad het wat sou geluister het na die noodkrete van sy mense.

Dit is moontlik dat almal van ons, uit diverse agtergronde, saam kan leef, want ons is gebore met ‘n wonderlike gawe, wat liefde genoem word. Ons moet net diep binne onsself dit gaan soek en as ons dit vind, dan gaan die uitlewing van verdraagsaamheid en aanvaarding nie ‘n probleem vir ons wees nie.

Ek glo nog ek sal die ware nuwe Suid-Afrika beleef. Party mense noem my ‘n idealis en ‘n dromer, maar ek glo dit sit binne onsself om ‘n nasie te skep waar ons almal as broers en susters saam kan leef, maak nie saak wat ons afkoms of herkoms is nie, want daar is ‘n plek vir almal van ons onder die Afrika son.

  • Kobus Ehlers

 Ek wil u graag bedank vir die geleentheid om u hier te kan toespreek.  Ek dink dit is van kardinale belang dat die jeug nie uit die oog verloor word wanneer ons oor Afrikaans praat nie.  Die jeug is immers die toekoms van ons skone taal, en daarom help ons graag dink hieroor.

Een van die realiteite waarmee die jeug vandag gekonfronteer word, is hoe ons toenemend moet funksioneer binne die konteks van 'n snel-globaliserende wêreld.  'n Leefstyl wat slegs enkele jare gelede net beskore was vir mees ondernemende sakemanne, is nou die lewensruim van 'n groot hoeveelheid (Afrikaanse) jeug.

Vandag gesels ek graag saam met u oor die besondere uitdagings wat hierdie tendens ons bied.  Verder fokus ek graag ook op die rol van Afrikaans binne hoër onderwys gekaats teen hierdie globaliserende werklikheid.

Om oor Afrikaans te praat binne die koue en kliniese ruimte van taal as kommunikasie alleen, is om heeltemal uit die oog te verloor juis daardie aspekte wat 'n taal so besonders en emotief maak.  Wanneer ons praat oor Afrikaans gaan dit tog om veel meer as grammatika.  Inderdaad raak 'n taal diep, tot die hart-en-siel van sy sprekers.  Afrikaans is meer as net die woorde waaruit dit opgebou is.  Afrikaans gaan ook oor die mense wat hierdie woorde gebruik om sinne (en sin) te maak.

Vir baie jongmense was die bagasie en konnotasie rondom Afrikaans en die gebruik daarvan, tot baie onlangs nog 'n ernstige en verbiedende kwelling.  Die historiese konteks van ons taal is iets waarmee, veral die jeug, hulself baie moeilik kan vereenselwig.  Des te meer nog wanneer ons praat oor Afrikaans as 'n onderrigmedium.  'n Eenvoudige verwysing van die opstande van 1976 is voldoende om te toon dat die geskiedenis van Afrikaans en die jeug, nie 'n eenvoudige een is nie.

Ek gaan myself nou egter verstout om aan te voer dat daar 'n wending aan die kom is vir hierdie tipe beskouing van Afrikaans as die taal van die onderdrukker en 'n instrument van Apartheid.  Afrikaans (en Afrikaanssprekendes) het oor die afgelope dekade of so die geleentheid gehad om so bietjie selfondersoek te doen en los te skeur van hierdie verdoemende milieu.

Die Afrikaanse jeug van vandag is besig om hul taal weer te herontdek.  Hul is bereid om krities te kyk na hierdie taal waarvoor hul so lief is en vrede te maak met die verlede daarvan.  Die jeug is bereid om weer self die tuig op te neem en te help bou aan die trotse tradisies en erfenis van hul taal.  Inderdaad is hul bereid om weer in te koop en eienaarskap van Afrikaans te neem.

En presies by hierdie punt is dit dan juis waar Afrikaans nou, soos telke male in die verlede, besig is om 'n metamorfose te ondergaan.  Nie om te swik onder die las van eksterne invloede nie, maar veeleer om aan te pas by die radikaal nuwe wêreld waarin ons almal onsself bevind.

Vandag se Afrikaanse jeug is net so veel deel van die wêreldbevolking as 'n Amerikaner, 'n Indiër of 'n Duitser.  En of jy nou Afrikaans, Mandaryn of Grieks praat het geen invloed op die baie reële feit dat jy deel is van 'n uiters komplekse globale konteks nie.  Enige persoon wat selfs vir 'n oomblik hierdie perspektief uit die oog verloor, loop die risiko om totaal vervreem te word van die magte wat inspeel op hul lewe en bestaan.

Diegene wat onder die waan verkeer dat jy moet streef om die beste te presteer in jou gemeenskap, of selfs land, sit die pot sommer baie mis.  Wanneer ek die arbeidsmark betree as 'n jong Afrikaanssprekende gegradueerde van die Universiteit van Stellenbosch, moet ek meeding met elke Indiër en Sjinees, met elke Turk en Ier.  In hierdie moderne dag, is daar lank nie meer iets soos gewaarborgde indiensneming of beskermde poste nie.

Ook gee die globale ekonomie werklik nie om of jy swart of wit, ryk of arm, Afrikaans of Portugees is nie.  Dit gaan kortom oor waar en hoe jy die vinnigste en maklikste die beste waarde vir geld kan kry.  Die speelveld verander radikaal wanneer geografiese afstand en sosiale identiteit nie meer 'n relevante oorweging is in die besluitnemingsproses vir aanstelling nie.

Ek sou beskuldig kon word van 'n elitistiese benadering en u kan stel dat hierdie globale speelveld net vir 'n klein minderheid beskore is.  Tog wil ek argumenteer dat 'n bewustheid van die enorme invloed van globale magte al hoe noodsaakliker gaan word - selfs in die bedryf van 'n plaaslike bestaan.

As gevolg hiervan is daar twee duidelike tendense wat ek raaksien by my portuurs.  Die een is dat daar 'n aanvaarding is van die realiteit dat jou totale bestaan nie in jou moedertaal gevoer sal kan word nie.  Dit is 'n tendens wat nou in fokus kom, maar darem glad nie iets nuuts is nie.  Selfs die dokter of dominee op 'n plattelandse dorpie moet in staat wees om te kan reageer op wat in die res van die wêreld aangaan.

Wanneer daar gepraat word oor hierdie realiteit en die invloed van Engels as lingua franca, moet daar tog nie tot gevolgtrekkings gespring word nie.  Hierdie feit beteken byvoorbeeld nie dat ons moet wegbeweeg van moedertaal Afrikaanse onderrig en alle klasse nou in Engels gee nie.  Inteendeel!  Daar is berge navorsing wat die waarde van moedertaalonderrig uitlig.  Daar is ook duisende mense wat in 'n ander taal opleiding ontvang het en nou in Engels werk.

Wat egter wél belangrik is, is dat hierdie beleid van moedertaalonderrig nie studente se ervaringswêreld onnodig beperk nie.  Selfs binne die konteks van Afrikaanse moedertaalonderrig, moet daar dus op 'n geïntegreerde basis kontak gemaak word met nie-Afrikaanssprekendes;  ook binne die leeromgewing.  Dit is ook gek om studente te ontneem van die geleentheid om netwerke te bou en besigheidskontakte te kweek, deur hulle net binne een gemeenskap te setel - veral gesien in die lig van die globaal-gediversifiseerde verspreiding van mag.

Ek besef dus dat ek waarskynlik in my leeftyd hoofsaaklik in Engels (of moontlik Mandaryn) sal werk, net soos ek besef dat ek volgens raming, in my studierigting, meer as 10 beroepe sal beoefen en in meer as drie lande woonagtig sal wees.  Dit alles is die resultate van 'n geïntegreerde samelewing wat saamgestel is oor landsgrense heen.

Hierdie tendens staan egter nie in isolasie nie.  Net soveel as wat daar 'n besef is dat taal in die globale gemeenskap gekies moet word op grond van doeltreffendheid, is daar op eie bodem 'n hunkering na jou eie taal en taalidentiteit.

Daar is dus 'n nuwe generasie wat funksioneer in 'n globale konteks.  Wat gemaklik is om oor lansgrense heen te reis, maar steeds sterk gewortel bly in hul eie gemeenskappe en identiteit.

Kyk gerus maar na die oplewing in die Afrikaanse kunste, veral onder die jeug, om te sien dat Afrikaans lank nie dood is nie.  Soos jongmense meer en meer begin eienaarskap neem van die taal, maak hul dit natuurlik ook hul eie.  Konsepte soos "suiwer taal" raak gaandeweg meer problematies, soos jong digters en skrywers die grense uitdaag en met die taal speel.

Hierdie herbevestiging van Afrikaans se sentrale plek in talle mense se lewens word gesien in die soeke na 'n Afrikaanse moedertaalopvoeding, kunstefeeste in elke streek en selfs die frekwensie waarmee Afrikaans in ander lande deur emigrante gebesig word.

Die Stellenbosch SR het hierdie jaar as een van haar visiepunte die bou van gesonde gemeenskappe geïdentifiseer.  Kortom beteken dit dat ons probeer werk na 'n situasie waar al die verskillende studente wat ons universiteit opmaak, sal begin om 'n gesamentlike identiteit te vind en 'n gemeenskap te bou waar almal na mekaar omsien en in die beste belange van almal optree.  Hierdie soeke na 'n nuwe, gesamentlike Matie-identiteit stop natuurlik nie daar nie.  As deel van so 'n proses wat werk met identiteit, moet elke student vir hom-/haarself afvra wie hul is.  Wat beteken dit om 'n Matie, 'n Stellenbosser, 'n Suid-Afrikaner, 'n Afrikaan of selfs 'n wêreldburger te wees.

Ons SR het reeds in 1005 'n dokument gepubliseer wat 'n raamwerk skep waarbinne taalgesprekke gevoer kan word.  Soos ons in daardie aanvanklike dokument gestel het:  "Die Universiteit van Stellenbosch is 'n nasionale bate.  Dit beteken dat hierdie universiteit 'n trots Suid-Afrikaanse kultuur en identiteit moet hê.  Afrikaans het slegs 'n regmatige plek as ons dit sien binne die nasionale konteks, maar dan het dit nie net 'n regmatige plek nie - dit het 'n noodsaaklike plek".

Ek, en ek glo baie ander studente, wil beslis nie ons mikpunte stel om die beste Afrikaanse of Suid-Afrikaanse studente te wees nie.  Om te oorleef en deel te neem aan hierdie ekonomie, moet ons mik om een van die beste universiteite in die wêreld te wees.

As dit moontlik is in Afrikaans, moet ons dit doen!  Ek glo dit is duidelik dat daar'n mark is en verder nog goeie navorsing wat die voordele van moedertaalonderrig uitspel.  Daar is die middele, die mark en die motivering om  steeds betekenisvolle voorgraadse onderrig in Afrikaans aan te bied. 

Kortom pleit ek net hiervoor.  Dat ons sal saamwerk en as 'n taalgemeenskap ons taal sal koester en waardeer, dat ons saam na oplossings sal soek en dat ons self verantwoordelikheid sal opneem vir die voortbestaan van ons taal.

Hierdie beraad is 'n wonderlike geleentheid vir ons om te gesels oor Afrikaans.  Tog wil ek u uitdaag sodat ons ook iewers kan gesels oor hierdie sogenaamde "meertalige konteks".  En dan nie net as Afrikaanses nie, maar as 'n hele Suid-Afrika.  Inderdaad sal die gehoor by so 'n beraad dan seker ook so bietjie anders daaruit sien as hierdie een.

Ek is lief vir Afrikaans.  Ek wil graag Afrikaans praat en in Afrikaans klas hê.  Ek glo Afrikaans het potensiaal en 'n plek in my lewe, my universiteit en my land.

Saam kan ons dit moontlik maak.

Perspektiewe op Afrikaans in die hoër onderwys:  Besondere perspektiewe - Russel Botman

Vordering met Taalbeleid

  • Indringende en rigtinggewende Raadsgesprek plaasgevind op 17 Februarie 2007
  • Uitkoms:  Konsensus oor vertrekpunte vir 'n hersiening van die huidige Taalbeleid en -praktyke
  • Benadering:  Verantwoordbare middelgrond
  • Hou dit aan u voor vir u insette - hiervandaan vir formeel besluitneming na Raad op 12 Maart 2007

Taal:  Vertrekpunte waaroor konsensus bereik is

  • Vertrekpunte vir die hersiening van die Universiteit Stellenbosch se Taalbeleid
  • Die Rektor, in sy hoedanigheid as voormalige eienaar van die taalbeleidhersieningsproses, versoek die Raad om:

(i)  kennis te neem van die feit dat die voorgestelde Konseptuele Raamwerk van die Taaltaakspan en van die Konvokasie aan al die Raadslede bestel is tesame met ander dokumentasie deur die Konvokasie ingedien;

(ii)  die volgende stel vertrekpunte vir die formulering en/of hersiening van die US se taalbeleid te bespreek en daaroor 'n standpunt in te neem ter versterking van ons soeke na 'n verantwoordbare middelgrond.

Strategiese vertrekpunte

  • Dat Visiestelling 2012 as vertrekpunt dien.
  • Dat die taalbeleid die diversiteitsdoelwitte van die Universiteit behoort te ondersteun.
  • Dat die Universiteit 'n nasionale bate is wat streef na akademiese uitnemendheid tot voordeel van die hele Suid-Afrikaanse gemeenskap.
  • Dat taal en taalgebruik die akademiese funksie van die Universiteit behoort te dien en nie andersom nie, d.w.s. dat taal 'n instrument is deur middel waarvan voortreflike onderrig, navorsing en tersaaklike gemeenskapsdiens uitgevoer word.
  • Dat die taalbeleid kommunikasie vir die doeleindes van effektiewe leer, onderrig, navorsing en administrasie behoort te fasiliteer.
  • Dat die taalbeleid in die ondersteuning van die onderrigfunksie student- en leergesentreerd moet wees.
  • Dat die taalbeleid van die Universiteit die demografiese en ander realiteite waarbinne die Universiteit funksioneer behoort in ag te neem.
  • Dat die taalbeleid die strategiese beplannings- en beleidsbesluite van die Universiteit behoort te ondersteun.
  • Dat taalbehoeftes in die verskillende omgewings van die Universiteit nie noodwendig dieselfde is nie en dat die taalbeleid vir hierdie behoefteverskille voorsiening behoort te maak.

Wat Afrikaans en sy meertalige konteks betref:

  • Dat die Universiteit histories aan Afrikaans 'n besondere plek gegee het en nog steeds wil gee en 'n voorkeurbestemming vir Afrikaanssprekende studente wil bly.
  • Dat die Universiteit meertaligheid sien as 'n onderdeel van die ideale profiel van 'n Stellenbosse student.

Wes-Kaapse inisiatief:  Afrikaanse gemeenskappe leer mekaar ken - netwerkbou op provinsiale vlak - Louis Nel

"In die kookskerm wil hy nie wees nie en in die kombuis mag hy nie kom nie."

Verslag oor die Konferensie oor Afrikaans:  21 Oktober 2006.  Aangebied deur:

  • Wes-Kaapse Taalkomitee
  • Departement van Kultuursake en Sport
  • Burgerlike samelewing

Doel van die Konferensie:

  • Om die behoeftes van die Afrikaanssprekende gemeenskappe in die Wes-Kaap te bepaal
  • Om 'n strategiese raamwerk vir die bevordering en ontwikkeling van Afrikaans en die bemagtiging van Afrikaanssprekendes in die Wes-Kaap te ontwikkel
  • Om die strategiese raamwerk met aktiwiteite aan te vul wat in die strategiese beplanning van die Komitee vervat kan word
  • Om 'n netwerk van Afrikaansgerigte instellings en organisasies te stig wat kan saamwerk vir die bevordering van Afrikaans en die bemagtiging van Afrikaanssprekende mense in die Wes-Kaap.

Werkwyse van die konferensie:

  • Alle deelnemers is gevra om 'n vraelys in te vul.  Hierdie vraelyste maak deel uit van 'n databasis en afskrifte is reeds aan die NFA gestuur
  • Deelnemers is in vyf wegbreekgroepe verdeel
  • Elke wegbreekgroep se bespreking is deur drie vrae gelei.  Die vrae het nou met die doelwitte van die konferensie geskakel.

Vrae tydens wegbreeksessies

  • Wat is die huidige situasie met betrekking tot Afrikaans en Afrikaanssprekendes binne u gemeenskap of vakgebied?
  • Wat moet dan, teen die agtergrond hiervan, die hoofdoelwitte van 'n strategie vir die bevordering van Afrikaans in die Wes-Kaap wees om die huidige situasie met betrekking tot Afrikaans en Afrikaanssprekendes binne u gemeenskap of vakgebied te verbeter?
  • Hoe moet daar te werk gegaan word om sodanige doelwitte binne die wetlike raamwerk van die Taalkomitee te bereik?

Terugvoering van die konferensie:

Bemagtiging deur Afrikaans -

  • Afrikaanse inisiatiewe moet op bemagtiging van sy sprekers gemik word
  •  Werkswinkels op die platteland moet in Afrikaans aangebied word
  • Klem moet op geletterdheid van oud en jonk val
  • Die plattelandse gebiede moenie afgeskeep word nie.

Eienaarskap van Afrikaans -

  • Afrikaans behoort aan al sy sprekers
  • "Ons" en "hulle" persepsie rig baie skade aan
  • Alle Afrikaanssprekendes moet respek en geleenthede in Afrikaans gegun word
  • Alle variante van Afrikaans moet bevorder word.

Bevordering van Afrikaans -

  • Die jeug moet weer trots gemaak word op Afrikaans
  • Bevordering moet binne 'n multikulturele en veeltalige konteks plaasvind
  • Pro-Afrikaans en nie anti-Engels nie
  • Afrikaans is nie 'n strydbyl nie, maar 'n voertuig vir versoening en wedersydse respek.

Afrikaans in die onderwys -

  • Moedertaalonderrig is belangrik
  • Universiteite se departemente raak al hoe kleiner
  • Die volgehoue ontwikkeling van Afrikaans as akademiese taal kan ly onder sy afskaling
  • Verskeie redes waarom kinders na Engelsmedium skole gestuur word
  • Die WKOD is aktief besig om oplossings te vind.

Gemeenskapsbetrokkenheid en skakeling -

  • Mense wil graag saamwerk
  • Fondse is die probleem
  • Plaaslike forums kan sulke samewerking vergemaklik
  • Kultuurfeeste verteenwoordig nie die volle spektrum van die Afrikaanse ervaringswêreld nie.

Taalbeleid en dienslewering -

  • Die grondslag is gelê, maar daar lê nog baie werk voor
  • Mense moet die reg hê om in die amptelike taal van hul keuse bedien te word
  • Gebaretaal is uiters belangrik
  • Mense is bereid om hande te vat en saam te werk om die ideaal te verwesenlik.

Burgerregte en minderheidsbelange:  Die Afrikaanse burgerlike gemeenskap - Kallie Kriel

  • Eenheid in verskeidenheid vs eenheid ten koste van verskeidenheid
  • Verdraagsaamheid vir veelvuldige identiteite/sienings
  • Werk saam oor gemeenskaplike/laat ruimte vir verskille bv.

- Misdaad:  Almal wat wil

- Afrikaans:  Afrikaanse gemeenskap + almal wat wil

- Afrikanergeskiedenis:  Afrikaners + almal wat wil

Burgerregte:

  • Grondwetlike- en internasionale regte
  • Gaan nie outomaties realiseer nie!
  • Burgerlike optrede nodig
  • Wat gebeur indien ons niks doen nie en onttrek

Onttrekkingskringloop:

  • Minderhede onttrek of emigreer
  • Magshebbers hoor nie minderhede se stem/Alternatiewe standpunte
  • Magshebbers interpreteer Grondwet selektief
  • Minderhede se regte geskend
  • Minderhede geïgnoreer
  • Minderhede sonder inspraak
  • Gebrek aan toekomsvisie

Taalregte:  Wat moet ons doen?

  • Aktiveer Afrikaanssprekende tot deelname:

      * Beredeneerde gesprekvoering/onderhandeling

      * Vreedsame aktivisme

          - Regsaksies/klagtes by ander forums

          - Gradering van besighede

          - Protesaksies

  • Ermelo

'n Perspektief op die toekoms van Afrikaans in die hoër onderwys - Theuns Eloff

Inleidend:  hoe moet die saak benader word?

  • Nie:  emosioneel, ideologies, eksklusief en polities nie;  dan gaan ons verloor ...
  • Wel:  strategies, nugter, pragmaties en kreatief
  • Die sleutel vir die toekoms van Afrikaans (ook in hoër onderwys) is meertaligheid

- politieke bedeling maak de jure voorsiening vir Afrikaans in meertalige verband

- de facto toekoms van Afrikaans is verder in die spraakgemeenskap se hande

  • Benut die mark- en kommoditeitswaarde van Afrikaans

Wat is die regsposisie met betrekking tot Afrikaans as hoër onderwystaal?

  • Grondwet gee algemene raamwerk en bron van legitimiteit (Art. 6, 29(2))
  • Witskrif op HO (1196/1997):  eie taalplanne in lyn met Grondwet
  • Wet op HO, 101/97:  Universiteit taalbeleid self, in ooreenstemming met Ministeriële beleid
  • Nasionale Plan op HO, 2001:  Taal mag nie hindernis vir toegang en sukses wees nie, HAU's moet kreatiewe oplossings kry
  • Taalbeleidsraamwerk vir HO, Julie 2001:  meertaligheid moet bevorder word in inst. beleid en praktyk
  • Nasionale Taalplan vir HO (2002):  Erken huidige posisie van Afrikaans en Engels as HO-tale, ander tale moet ontwikkel word, Afrikaans as HO-taal = nasionale bate, nie net 2 universiteite se verantwoordelikheid nie;  SA tale en nie-inheemse tale moet bestudeer word.  Meertaligheid moet deel van instit. beleid en praktyk wees.
  • Dus:  daar is genoeg ruimte vir Afrikaans as hoër onderwystaal, binne die raamwerk van veeltaligheid.

Wat is die de facto posisie van Afrikaans as hoër onderwystaal?

  • Swakker?  Hoekom?
  • Onbedoelde gevolge van wetlike en regsraamwer wanneer "laer" toegepas
  • Regering belangriker prioriteite as taaldiversiteit
  • Die verskillende beleide van die HAU's/MU's?
  • Meertaligheid by die HEU's?

Hoe kan die saak dan aangepak word?

  • Benader dit strategies en beredeneerd:  besluit hoekom jy dit wil doen?
  • Maak seker die institusionele wil is daar

- Funksionele meertaligheid deel van Statuut & Institusionele Plan, strategiese prioriteit

- Kommunikeer duidelik aan belanghebbendes dat daar politieke wil is

- Maak geld beskikbaar!

- Kry 'n 'champion' om die saak te dryf

- Onderhandel en konsulteer ter wille van deursigheid en legitimiteit

- Bestuur die winste aan die hand van 'n prestasiebestuursbeleid

  • Wees pragmaties en nugter

- Moenie politiek hiervan maak nie en bestuur dit dan soos enige ander institusionele strategie

- Fokus op nutswaarde:  kapitaliseer op onmisbaarheidsbeginsel en aktiveer kwaliteitsbeginsel

- Produkte van Afrikaans moet onmisbare kommoditeite vir groter Suid-Afrika wees;  goeie wetenskap, joernalistiek, musiek en letterkunde

  • Werk op beginsel van funksionele meertaligheid (PanSAT) (beginsels)
  • Wees kreatief en innoverend
  • Wees overt inklusief

Hoe doen NWU dit?

  • Agtergrond:

- Een, multi-kampus universiteit (moeiliker en makliker)

- Strategiese prioriteit:  funksionele meertaligheid

- Fondse, "kampioen"

- Weerstaan voortdurend die verleiding van eentaligheid of tweetaligheid

  • Gebruik tegnologie

- Simultane tolking

- Vertaaldiens

  • Loodsprojek begin in 2003, geborg deur Telkom
  • 2007:  450 periodes per week

 - PUK-kampus:  Ing, Farmasie, Regte, Verpleegkunde, dele van Comm., dele van teologie

 - Vaalkampus:  BSc

 - Intydse webvertalings

 - Institusionele kommunikasie meertalig

  • Ook Potch Landboukollege en Frikkie Meyer Hoërskool (Ermelo?)
  • Benader dit wetenskaplik en op navorsingsgrondslag
  • Aksienavorsing bewys:

- Geen gebruikersweerstand nie

- Voldoende klasdeelname steeds moontlik

- Unieke werwings- en opleidingsmodel van tolke aan die NWU werk

- Klaskamertolking maak die fasilitering van mense met meer taalvoorkeure moontlik

- Dit bevorder multikulturaliteit

- Taalskeiding bestaan nie, en ook nie rasskeiding nie

- Dosente verminder klasgeetyd

- Dit is die ENIGSTE haalbare en bekostigbare manier waarop meertalige onderwysselsel geïmplementeer kan word.

  • Taalombudskantoor
  • Beskou taalbestuur as "enterprise"

- Dit word nie meer gedoen in die terme van 10 of 5 jaar gelede nie

- Alles is onderhandelbaar

- Beginsel:  as daar vraag is, moet dar aanbod wees

- Werk kreatief met die vraag-aanbod-ding

Hoe kan dit verder geneem word?

  • Kapitaliseer op Afrikaans se markwaarde en ontgin die breë en diverse markwaarde van die ontluikende tale

- Grootste markwaarde vir Afrikaans is dat dit 'n diverse gemeenskap is en nie 'n wit een nie

- Afrikaans is die enigste taal van die 10 wat al die hoë funksies vervul waarvoor die ander nog kan hoop en moet verwerf

- Die taal en sy sprekers kan hierdie kundigheid aangee

- Definisie van Afrikataal:  kodifisering en ortografisering het inheems plaasgevind

- Daar is behoefte vir tersiêre onderrig in Afrikaans (10 jaar se getalle aan die ou PUK en nuwe Potchkampus van die NWU;  markbehoeftes)

  • Daar is 'n MAAR:

- die plek vir Afrikaans is in sy interne diversiteit en die eksterne SA diversiteit

- daar is nie plek vir Afrikaans as dit terughunkering is na vroeëre bedelings nie

- dit gaan steeds om die manier hoe Afrikaans sy natuurlike markplek in meertalige verband kan volmaak

  • Gelyktydig hiermee MOET gaan 'n gedrewe proses om die markwaarde van die ontluikende tale te ontgin
  • Netwerk en lobby
  • Hou op praat en vingerwys en begin doen

- Die GW en statutêre beginsels laat universiteite genoeg ruimte om te begin doen

- Bestuur besluit eers of die instelling meertalige pad wil volg

- Sluit taalbestuur gerig op FM as deel van die transformasieproses in

- Werk aan 'n inklusiewe taalstrategie wat belyn is met eksterne en interne omgewing:  implementeer en kommunikeer

  • Bly sover moontlik binne gesubsidieerde sisteem
  • Hoe gaan ons Afrikaans as HO-taal bekostig?

- Kan ons bekostig om die saak te ignoreer?  (in terme van direkte, indirekte en sosiale koste?)

- Haalbaarheidsondersoek in 2006 aan die NWU bevind:  dit kos tans aan die NWU minder as 1% van die institusionele begroting om meertaligheid (3 tale) op alle bedryfsvlakke te implementeer.  Na uitrol sal dit nie 2% oorskry nie.

Ter opsomming en afsluiting

  • Werk beter aan die politieke klimaat en wys die politieke wil

- Afrikaanse raad van Afgevaardigdes

- Werk saam ... daar is baie maniere waarop Afrikaans as hoër onderwystaal verder gevestig kan word

  • Benut die mark- en kommoditeitswaarde van Afrikaans
  • Wees "kommitted" - wil EN geld (sakesketor?)
  • Wees innoverend - dit kan.

Implementing international language rights:  challenges, difficulties, possibilities - Fernand de Varennes

Language is power, and the denial of language rights often leads to the denial of a share of power, a loss of opportunities, and even the creation of injustice.

 

 

The Cases in the Last 20 Years (or so):

 

 

  • In 1993 (Ballantyne v. Canada), the UN Human Rights concluded that the right to use a language in private activities was guaranteed by freedom of expression.
  • In 2001, the European Court of Human Rights said that freedom of expression could also be applied to banning books written in a foreign language which were published abroad. This also implies the freedom to broadcast private radio programmes in a minority language and a plethora of other possible “private” language rights.
  • In 1991 (Coeriel and Aurik v. Netherlands), first the UN Human Rights Committee (and the European Court of Human Rights in 1994) recognized that individuals have the right to have their own name in their proper form, which would include in a person’s own language. Even the European Court of Justice in 2005, reached essentially the same conclusion.
  • In 2000 (Diergaardt et al. v. Namibia) the UN Human Rights Committee was of the opinion that a minority language, Afrikaans in Namibia, had to be used to some degree by official authorities in addition to English, the official language, in order to comply with non-discrimination on the ground of language, since there was no explanation why only using English was reasonable and justified in the circumstances.
  • The European Court of Justice has also indicated that services in a particular language, including in a minority language, constitute a service or benefit that cannot be restricted in a discriminatory way between citizens of the European Union. The Court concluded in 1985 that the use of German in criminal appeal proceedings in Belgium was a “social advantage” being restricted to citizens of that country which was unjustified and discriminatory, and in 1998 it applied about the same reasoning, with some clarifications, to criminal proceedings in German being limited to Italian nationals in the Süd Tirol/Alto Adige province.
  • In 2001 (Cyprus v. Turkey), the European Court of Human Rights concluded in a controversial judgment that seems to directly contradict its 1968 decision in famous or infamous Belgian Linguistics Case that the right to education could, in rather unclear situations, include the right to being instructed in a minority language in a state school, even if this is contrary to the language legislation in place.
   South West Africa Case (Second Phase) [1966] International Court of Justice 284:
  • The principle of equality before the law] does not exclude the different treatment of persons from the consideration of factual differences ... To treat different matters equally in a mechanical way would be as unjust as to treat equal matters differently.
 South West Africa Case (Second Phase):
  • [I]f we consider education ...we cannot deny the value of vernacular as the medium of instruction and the result thereof would be separate schooling as between children of diverse population groups ... In this case separate education and schooling may be recognised as reasonable. This is justified by the nature of the matter in question.

Emerging Zeitgeist:

- Framework Convention on the Protection of National Minorities

- European Charter for Regional or Minority Languages

- United Nations’ Declaration on the Rights of Minorities

- The Hague Recommendations regarding the education rights of national minorities

- Oslo Recommendations regarding the linguistic rights of national minorities

- Etc. 

  • Human dignity and respect of human differences must acknowledgment, accommodation and action whenever possible and to the degree that is reasonable and practical as part and parcel of a democratic framework, and this means some degree of use of languages by government to accurately reflect the interests and languages used by the population of a state.
  • Hoërskool Ermelo must admit English-speaking pupils and teach them in English, despite it being a Afrikaans-medium school.
  • English-only language policy within many of the police force’s internal activities in Western Cape.
  • University of Stellenbosch as an Afrikaans-medium tertiary institution.
  •  

Implementation of Non-discrimination in language used by public authorities: Principles:

  • South West Africa Case, Diergaardt v. Namibia, etc.: unless an English-only language preference or restriction is reasonable or justified, it could be discriminatory.
  • European Charter for Regional or Minority Languages and Framework Convention on the Protection of National Minorities (and application of non-discrimination): there must be proportionality, i.e. use of languages by government to the extent that is reasonable and justified in the circumstances.
  •  And for Afrikaans in South Africa?:

    •  Language of work (such as by police force and other government departments) where widely spoken, such as Western Cape
    • Effective medium of instruction in public schools where there is sufficient demand

    • Tertiary (university) education in the language where there is sufficient demand.  Etc... 

 

Ontwikkel deur GigaSkills Training vir die Akademie